Tanya Pretorius se Toyota Knight-gholfdag weer ’n groot sukses
Dertien vierbal-spanne het vir die kompetisie ingeskryf en die Delmas Gholfbaan was behoorlik in rep en roer.
Tanya Pretorius, nou al baie bekend in Delmas-kringe as een van Toyota Suid-Afrika se ‘Knights’, het weer ’n baie suksesvolle geldinsameling gehou.
Die Toyota Knights verteenwoordig ’n elite groep van verkoopspersone.
Volgens Toyota Suid-Afrika is hierdie groep uitverkore verkoopspersone ’n groot aanwins vir die maatskappy.
Om as ’n Knight geslaan te word, beteken egter ook dat dié persone as ’n voorbeeld van ’n gebalanseerde individu, binne en buite hul werkplekke staan.
As deel van haar diens aan die gemeenskap reël en organiseer Pretorius gereeld geldinsamelingsprojekte ten bate van niewinsgewende organisasies of behoewende instansies.
So het daar weer op Vrydag, 20 Mei ’n gholfdag by die Delmas Gholfklub plaasgevind.
Dertien vierbal-spanne het vir die kompetisie ingeskryf en die Delmas Gholfbaan was behoorlik in rep en roer.
Na afloop van die kompetisie was die wenspanne aangekondig.
In die eerste plek was Tjokkie Struwig en Willie Saaiman. Jannie Kruyshaar en Victor Buckle neem die tweede plek in. Die derde plek het aan die pa- en seunspan, Bennie en Zander Labuschagne gegaan.
Die langste dag-toekenning het aan die Scheepers-span van Sasol in Delmas gegaan.
Verskeie items was ook per veiling verkoop, waarvan die opbrengs vanjaar na Tutela asook Delmas Herleef sal gaan. “Tutela was my hoofdoel van insameling vanjaar, maar ek wou baie graag ook vir Delmas
Herleef met ’n paar rand help vir die gemeenskapsprojekte wat hulle in Delmas doen,” het Pretorius gesê.
Pretorius het dan ook al die borge bedank wat die spesiale dag vir haar moontlik gemaak het. “Dankie aan NTT Toyota, Cartrack, VKB Meganies, die Delmas Gholfklub, H&D Vervoer, Michael Mcgregor, Toyota
Finansiële Dienste, We Meat Again sowel as die Loskop Valley Lodge.
Volgens Pretorius was die hele dorp se besighede egter betrokke, te veel om te noem en het byna elkeen ’n bydrae tot die sukses van die dag gemaak en bedank sy elkeen vir hul positiewe bydrae.
“Sonder hierdie mense sou die dag nie moontlik gewees het nie.”








