Local sportSport

Secunda-skopboksertjie bring dit vér

Meisie sorteer boelies gou-gou uit.

Anika Storm (12) ’n leerder aan Laerskool Secunda, is nie ’n meisie wat met haar laat mors nie.

Sy neem nog net vir ’n jaar aan skopboks as ’n sport deel en het reeds die titel as die Suid-Afrikaanse Skopbokskampioen in haar ouderdomsgroep verower.

Dié jong skopbokser het vanaf 12 tot 15 Mei aan die Suid-Afrikaanse Skopbokskampioenskap op Mosselbaai deelgeneem en drie goue medaljes ingepalm in drie onderskeie afdelings van dié sport en het ook haar Suid-Afrikaanse kleure verwerf.

Sy oefen oor naweke skopboks by ’n klub in Meyerton en sy doen ook al die afgelope sewe jaar Taekwondo by die Victory Taekwondo-sentrum op Secunda.

Anika het in 2020 haar eerste dan-swartgordel in Taekwondo verower.

Sy het al ’n string medaljes vir Taekwondo ingeryg en het al twee keer aan die jaarlikse Arnold Classics-kompetisie in Gauteng deelgeneem.

Haar pa, Pieter Storm, het vertel haar belangstelling in Taekwondo het begin toe sy sewe jaar gelede by ’n restaurant op Secunda, ’n seuntjie wat ander kinder geboelie het, geslaan het.

“Sy is eintlik ’n baie stil meisie, maar toe daai seun die ander meisies rondgestamp het, het sy hom geslaan en sy was maar net ses jaar oud,” het Pieter gesê.

“Dié seuntjie se ouer broer het toe nadergestaan en Anika het hom ook geslaan.

“Ek het met haar geraas, maar die kelner het vir my gesê ek moenie met haar raas nie, want sy het opgestaan vir die ander meisies.”

’n Boksafrigter het Anika dié dag raakgesien en vir Pieter gevra of hy haar nie wil laat bokslesse neem nie.

“Ons wou nie hê sy moes bokslesse neem nie, maar het besluit sy kan eerder Taekwondo doen.”

Sy volg in haar ouers,wat albei ook Taekwondo en skopboks doen, se voetspore.

Pa Pieter het ook reeds sy eerste dan-swartgordel in Taekwondo verower en hy en Anika werk tans aan hul tweede dan in dié sport.

Anika Storm met haar trofees wat sy by die Suid-Afrikaanse Skopbokskampioenskap op Mosselbaai verower het. (Foto: Verskaf)

Ma Lezane, wat ook ’n swartgordel in Taekwondo het, neem al vir langer as twee jaar aan skopboks deel en sy en Anika oefen ook gereeld saam.

Hulle het ook saam aan die Suid-Afrikaanse Skopbokskampioenskap deelgeneem.

Anika se jonger sussie, Elshanté (6) het ook met skopboks begin, maar sy stel meer in danssport en ballet belang.

Anika slyp haar tande om aan die Afrika Spele in September deel te neem in skopboks en as sy daar goed vaar kan sy kwalifiseer om aan die Olimpiese Spele deel te neem.

“Dit het harde werk van Anika geverg om tot hier te kom,” het Pieter gesê.

“Oor naweke oefen sy in die oggende, middae en aande skopboks.”

Sy neem in Junie vir die eerste keer aan ’n hokgeveg (cage fighting) kompetisie deel en is baie opgewonde.

Anika wil graag ’n vlieënier word eendag as sy groot is.

In haar vrye tyd hou sy daarvan om teiken te skiet met ’n vuurwapen en sy neem graag aan boogskiet deel.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button