Hoërskool Secunda se besigheidskrieketliga eindig op hoë noot
Ondernemings meet kragte.
Hoërskool Secunda se T20-aandliga vir sakeondernemings het op 23 Junie op ’n hoë noot geëindig toe die Grip & Rip Sky Rockets-span as die wenners weggestap het.
Hulle het die NB Sports-span in die eindronde geklop.
Die NB Sports-span het ingegaan om eerste te kolf en ’n total van 125 lopies vir ses paaltjies aangeteken.
Die Grip & Rip Skyrockets het egter nie teleurgestel nie en vining die NB Sports-span se total in die 16de beurt verbygesteek om met die 2022 besigheidsbeker weg te stap.
Die skool bied jaarliks dié liga aan en vanjaar het sewe spanne kragte gemeet.
Dié spanne is die Grip & Rip Sky Rockets-span, NB Sports, Lynco, Trifill Strikers, MegChem, Fine Legs en die Onnies.
Die spelers het in altesaam 44 wedstryde gedurende die reeks teen mekaar meegeding en daar is 768 grenshoue gemoker.
George Louw van die Trifill Strikers is as die beste kolwer van die liga aangewys met ’n totale lopie-syfer van 364.
Pieter Vrolik van die Onnies-span is aangewys as die speler wat die meeste lopies in ’n wedstryd aangeteken het met 131 nie uit nie.
Dewald Stander, ook van die Trifill Strikers, is as die beste bouler vir die liga aangewys en hy het 11 paaltjies laat kantel.
Johan Pieters van die NB Sports-span is aangewys as die speler wat die meeste paaltjies in ’n wedstryd geneem het. Hy het vyf paaltjies geneem vir 16 lopies.
Die krieketspelers het Hoërskool Secunda se beheerliggaam spesiaal bedank, asook die ondernemings wat hulle ondersteun het in die vorm van borge, Collin van Staden wat die organiseerder is, Marius du Toit wat die skeidsregter was, Carmen Franken wat die telling gehou het, Sasol Krieketklub, wat die swart sigskerms opgestel het en die regstreekse tellingsprogram en al die spelers wat deelgeneem het om die skool se inisiatief te ondersteun.




