Trichardt-seun speel kookwater rugby by Cravenweek
Divan Venter is onder top vyf rugbyspelers.
Divan Venter van Laerskool Trichardt het sy mikpunt om vir die Craven Rugbyweek gekies te word, verwesenlik.
Dié jong sportman is gedurende die skoolvakansie by Cravenweek in Krugersdorp, waar hy vir die 0/13-Pumaspan uitgedraf het, as een van die top vyf rugbyspelers aangewys.
Hy het behoorlik uitgeblink en sy span het sesde in die Cravenweek geëindig.
Venter het reeds in die begin van die week, op Maandag, sy eerste drie vir die span gedruk en Dinsdag nóg twee drieë.
Hy het tydens die Pumas se derde wedstryd, op die Donderdag, weer eens seker gemaak sy span wen hul wedstryd en het weer twee drieë aangeteken.
Op die laaste dag van Cravenweek, Vrydag, kon die Pumas net nie hul wedstryd teen die Blou Bulle wen nie, maar Venter het daarin geslaag om die enigste drie vir die wedstryd aan te teken en hy is ook as die beste speler van die wedstryd aangewys.



