Delmas Gholfklub junior pro-akademie skop af
“Met die junior pro-akademie beoog ons om die jong klomp van vroeg af ’n liefde vir die sport te laat ontwikke.l”
Opgewonde kinders, elk met ’n gholfstok in die hand het op 3 Februarie hul eerste amptelike stokke by die Delmas Gholfklub geswaai.
Dit vorm deel van die Delmas Gholfklub se inisiatief om ’n junior pro-gholfakademie tot stand te bring.
Die jongklomp word deur die klubkaptein, dominee Adriaan Benadie, afgerig.
Tussen die belangrike reëls, opwarmingsoefeninge, die regte posisie en ’n kleurvolle baan was die jongelinge gou tuis en het die stokke bedrewe geswaai.
“Gholf is ’n uitstekende en gesonde sport vir ons jeug. Dit kan vanaf enige ouderdom beoefen word en daarmee aanhou tot op ’n hoë ouderdom,” het Benadie laat hoor.
“Dit is belangrik vir kinders om sport te beoefen en in die vars buitelug te kom, weg vanaf selfoon- en rekenaar speletjies. Met die junior pro-akademie beoog ons by die jong klomp van vroeg af ’n liefde vir die sport te laat ontwikkel.”
Alle kinders vanaf die ouderdom van vyf jaar is welkom om aan te sluit.
Gholftoerusting word ook verskaf aan studente wat nie oor hul eie beskik nie.
“Ons bied die program in Engels en Afrikaans aan en beoog ook om klasse nie groter as ses studente te maak nie – sodoende kan ons behoorlike individuele aandag aan elke opkomende gholfspeler gee,” het Benadie bygevoeg.
Vir meer inligting rondom die Delmas junior pro-golf akademie, kontak Benadie by 079 511 0159.









