Cook n Loer: Twee broers bak en brou
Cook n Loer loer weekliks by iemand in die Secunda-omgewing se kombuis in om te sien wat hulle en hul geliefdes graag kook, bak of eet.
SECUNDA – Cook n Loer loer weekliks by iemand in die Secunda-omgewing se kombuis in om te sien wat hulle en hul geliefdes graag kook, bak of eet.
Word resepte streng gevolg of net as ’n riglyn gebruik en word daar gebak, gebrou of gebraai?
Kom ons vind uit, wie weet dalk word ’n geheime resep of bestanddeel raakgekook!
Cook n Loer het onlangs by Louis en JJ Viljoen, twee broers, ingeloer.
Hulle broers word as baie bedrywig beskou en niks staan in hul plek om die kombuis oor te neem nie.
Vir die Viljoen-broers bestaan daar tans net een tydverdryf, naamlik klanktoestelle en nie sommer enige klanktoestelle nie, maar wel dié wat in motors gevind word.
Daar kan met die stokperdjie ook pryse gewen word en hulle skryf jaarliks hul voertuig met al die ekstra klanktoerusting vir die Swartgoud Wieleskou op Kriel in.
Hulle het verlede jaar sesde gekom en hulle hoop om vanjaar te wen.
“Dis nogal baie harde werk,” het Louis gesê.
Hy moes noodgewonge vanjaar rus omdat hy ’n ernstige knie-operasie moes ondergaan en kom steeds met krukke oor die weg.
Hy het vier jaar gelede ’n kniebesering tydens skoolrugby opgedoen en het sedertien probleme.
JJ is tans ’n gr. 11-leerling aan Hoërskool Hoogenhout en help graag sy broer oor naweke waar hy kan, veral met die klanktoerusting, want die volgende skou vind plaas op 6 Junie plaas.
“Al gaan die kompetisie oor klank, moet die voertuig binne en buite blink en alles moet reg werk,” het JJ gesê.
“ JJ help my regtig baie en ek is geseënd om hom en my ouers te hê om op te kan steun.
“Ek sorg ook darem dat hy nie sy skoolwerk afskeep nie,” het Louis gesê.
JJ wil graag volgende jaar by die weermag aansluit en Louis beplan die klankvertonings.
Hulle bederf graag hulle ma, me. Lelanie Viljoen, met heerlike sjokolade-koffiekoek.
Dit is hul gunsteling koek en sommer poeding ook.
“Ons sal nooit moeg word vir hierdie resep nie,” het hul ouers gesê.
“Ons skep gewoonlik net vir ma en pa ’n stukkie uit en deel die res.”
Nou, ja, Louis en Stephan ons hou julle dop!
Of dalk moet Cook en Loer ook dié heerlike resep probeer?
As jy enige navrae of voorstelle het, of as jy jou resep met ons lesers wil deel, stuur ’n e-pos na editor@echoridge.co.za.
Bestanddele en metode:
1) Skakel oond aan op 180 grade C.
2) Sif saam:
* 1 koppie koekmeel
* 1 koppie suiker
* 2 teelepels bakpoeier
* Knippie sout
3) Skei 4 eiers en klop eierwitte styf, hou eenkant.
4) Voeg die volgende by eiergele en meng: 1 teelepel Vanilla en 2 koppies kookolie (nie olyfolie nie)
5) Meng saam:
· ¼ koppie kakao
· 2 koppies kookwater
6) Meng alles saam, behalwe die styfgeklopte eierwitte.
7) Wanneer deurgemeng, vou die eierwitte in.
8) Gooi deeg in ’n 20cm x 25cm pan en plaas in voorafverhitte oond vir 30 min.
9) Terwyl koek bak, berei solank die stroop.
10) Stroop: Meng die volgende in ’n kastrol en kook vir 3 min.
* 1 ½ koppie water
* 3 teelepels koffiepoeier
* ½ koppie suiker
* 1 teelepel vanilla
11) Na die 30 min haal koek uit.
Die koek sal nog nie heeltemal gaar wees nie.
Gooi die stroop eweredig oor en plaas terug in oond vir sowat 15 minute of tot gaar.
Versier met gekookte gekondensmelk en room gemeng, maar ook met enige ander versiersel na gelang van smaak
Perfek om hierdie koek as poeding te bedien.

Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie.
Ridge Times, Standerton Advertiser & Highvelder
”Like” ons op Facebook en volg ons op Twitter.
Vir nuus na jou selfoon:
BBM – 2667A726
WhatsApp – 0748877590



