Lettichia se hart lê by liefdadigheid
“Die kinders se gesiggies as hulle hul gunsteling karakter in lewende lywe sien, is te pragtig.”
SECUNDA – Lettichia Potgieter (17) van Hoërskool Oosterland het reeds as vyfjarige 55 skoonheidstitels ingepalm.
Sy het al op ’n vroeë ouderdom besluit dat sy haar skoonheid vir liefdadigheid wil aanwend.
Kankerpasiënte, veral kinders, lê haar veral na aan die hart.
“Mense wat seer en siek is, is my roeping en ek wil daagliks ’n verskil in iemand se lewe maak.
“God het ’n doel vir my lewe en ek streef met elke projek, om Sy plan te vervul.
“Ek leef my droom en lewensdoel uit.”
Haar geloof hou haar sterk en sy het gesê dat sy alle eer aan God gee vir haar suksesse.
Me. Emily Naude Erasmus, haar ma, ondersteun haar in alles wat sy doen.
“Ek is bitter dankbaar vir my ma, want sonder haar bystand sou ek nie gewees het waar ek vandag is nie.
“Sy het ’n besige skedule, maar is nooit te besig om my met my projekte te help nie.”
Lettichia oefen tans vir die Mej. Oosterlandkompetisie, bied weeksaande Zumba-klasse Highveld Ridge Primary School aan en doen liefdadigheid.
Sy sê ten spyte van die druk program, ruim sy ook tyd in vir studies.
“Dit gaan oor goeie tydsbestuur en beplanning.”
Sy wil na skool tandheelkunde of ingenieurswese studeer.
Van die karakters wat Lettichia vertolk as deel van liefdadigheidswerk, is Elsa van Frozen, Tinkerbell, Barbie, Doringrosie, Candy Girl, My Pony en Kitty.
Haar kostuums word van oorsee ingevoer en ander word deur haar ma en suster gemaak.
Sy tree gereeld by Emperors Palace op en doen kinderpartytjies as een van haar karakters tot so ver as Bloemfontein.
Lettichia doen gesigverf, vou ballonne en vermaak kinders in die karakter wat sy vertolk tydens partytjies.
“Die kinders se gesiggies as hulle hul gunsteling karakter in lewende lywe sien, is te pragtig.”
Sy het gesê dat hulle haar ook soms skakel om met hul “heldin” oor die telefoon te gesels.
Dit is vir Lettichia belangrik dat kinders se verbeelding gestimuleer word, veral in ’n wêreld waar tegnologie so ’n groot rol speel.
Al die liefdadigheidsprojekte wat Lettichia aanpak, word deur haar en haar familie gefinansier.
“Ons vra vir niemand geld nie, want God is goed vir ons.
“Die geld wat ek vir kinderpartytjies vra, is baie klein en sluit meestal net vervoerkoste in.”
Haar deernis vir mense straal uit haar uit.
“Maak jou werk jou passie en leef jou droom,” het sy vertel
Sy sal ook graag eendag aan die Mej. Suid-Afrika-skoonheidskompetisie wil deelneem omdat dit op liefdadigheid fokus.
Sluit aan by Lettichia se Facebookblad, Elsa van Frozen, vir meer inligting.







