Theunis Botha op pad na die VSA
Operasanger gaan sy meestersgraad in musiek voltooi.
SECUNDA – Mnr. Theunis Botha gaan sy meestersgraad in musiekopvoering aan die Missouri State Universiteit in Springfield, Missouri, in Amerika voltooi.
Hy wou as kind ’n forensiese patoloog word en later wou hy regte studeer.
Mnr. Botha wou ook graag ’n vlieënier word, maar moes dié droom laat vaar omdat hy ’n vorm van kleurblindheid het.
Met ’n diploma van die Tswane Instituut van Tegnologie se Opera Skool en ’n BMus honeursgraad van die Universiteit van Pretoria, is hy uiteindelik op pad om sy droom vir ’n internasionale meestersgraad in musiek na te streef.
Mnr. Botha se paadjie na musiek was egter vol kronkels.
As skoolkind het hy aan elke moontlike soort sport deelgeneem.
Hy het geswem, hokkie, tennis en muurbal gespeel en selfs aan akrobatiese gimnastiek deelgeneem.
“Ek het selfs vir ’n jaar jukskei op hoërskool gespeel.”
Gebore op Trichardt en die jongste van twee met ’n ouer sussie wat drama en teater gestudeer het, was die kunste egter altyd in sy bloed.
Mnr. Botha het vertel dat hy op laerskool herhaaldelik klavier begin speel het en dat hy selfs ballet en klopdans gedoen het.
Hy het gereeld saam met sy ouers na die plaaslike teater en die staatsteater gegaan om na opvoerings te kyk.
Hy sing al in kore sedert hy omtrent 13 jaar oud is, eers die Hoëveld Jeugkoor en daarna die Evander Youth Choir.
Hy het in gr. 11 met sanglesse begin en die wêreld van opera het skielik vir hom oopgemaak.
Mnr. Botha onthou die eerste opera-opvoering, Puccini se La Boheme, wat hy gesien het en die emosie wat dit in hom wakker gemaak het.
Hy het dadelik besluit om opera sy loopbaan te maak.
Hy het die jaar na skool by TUT se operaskool studeer.
Nadat hy sy diploma verwerf het, het hy ook sy BMus aan UP voltooi en in 2015 aansoek om keuring om sy meestersgraad in die buiteland te voltooi, gedoen.
Mnr. Botha het ’n basstem en het die voordele daarvan verduidelik:
“Basstemme neem langer om te ontwikkel en is gewoonlik eers op bykans 35- of 40-jarige ouderdom ten volle ontwikkel.
“Gelukkig kan mens ook langer as ander stemme aanhou sing voordat jou stemgehalte afneem.”
As bewys hiervan het hy genoem dat een van sy rolmodelle, die Duiste sanger Kurt Moll (78), tot onlangs nog opgetree het.
Mnr. Botha is veral opgewonde oor die geleenthede wat hy sal kry om tydens sy oorsese studies saam met verskeie orkeste en dirigente op te tree,
Oor waar hy homself oor 10 jaar sien, het hy gesê: “Ek is ’n vryskut operasanger wat onder andere by La Scala of die Royal Opera House Covent Garden saam met die Berlynse Filharmoniese Orkes optree, om maar net ’n paar te noem.”
Sy ideale rolle sluit in Jacopo Fiesco van Verdi se Simon Boccanegra en Sarastro van Mozart se Towerfluit.
Hoewel hy besonder opgewonde is oor sy voorgenome studies, is mnr. Botha dankbaar vir die grondslag wat reeds gelê is.
Twee mense wat hom geïnspireer het, is Isabel Retief, sy eerste musiekonderwyser wat steeds op Secunda lesse gee, en dr. Hanli Stapela, ’n dosent in sy finale jaar.
Hy is ook dankbaar vir sy ouers se ondersteuning.
“My ma en pa is legit – hulle is fantasties.”
Sy raad aan jong kunstenaars is om nooit moed op te gee nie.
“Bly nederig, werk hard en hou altyd aan om te leer en te ontwikkel.”
Mnr. Botha vertrek in Julie na Missouri.
Ter voorbereiding vir sy vertrek, gaan hy twee konserte op Secunda aanbied in samewerking met plaaslike kore en kunstenaars.
Hannelie Pienaar, een van sy voormalige musiekonderwysers, gaan hom op klavier begelei en die program sluit klassieke en kontemporêre treffers in.
Die konserte is op 20 en 28 Mei by die Filadelfia Baptistegemeente.
Vir meer inligting, epos mnr. Botha by tbotha5@gmail.com.




