Soetigheid, southappies en bier

Na my beskeie mening gaan die verhoging in die ouderdomsbeperking nie veel help om alkohol-verwante misdaad en padsterftesyfers te laat afneem nie.

Eers was dit sigarette. Daarna het sout en suiker gevolg, en nou is dit alkohol.

Ek praat nou van hoe besorgd die owerhede geword het oor my en ander se gesondheid. Dit geld nou tot waar en op watter ouderdom mense mag rook, die hoeveelheid sout my kos en southappies mag bevat, en hoeveel soetigheid daar in my tee en koeldrank mag wees.

Gelukkig rook ek glad nie, so al die besorgdheid oor die toestand van my longe deur die agbare minister van gesondheid is nutteloos. Maar baie dankie in elk geval, mnr. Die Minister.

Die sout en suiker is vir my ‘n heel ander saak. Komaan, mnr. Die Minister. Moet ons nou waaragtig die “Wat is ‘n huis sonder ‘n moeder- (of vader-) portretjie van ons mure afhaal en vervang met ‘n “wat is ‘n braaitjoppie (of steakie) sonder sout?” ene?

Ook ‘n teetjie sonder suiker werk nie vir my nie. Die melk het ek lankal uitgeskakel en nou moet die suiker ook waai? Ai, mnr. die Minister, het jy nie al gehoor hulle sê die lewe is bitter genoeg nie?

Ek weet nie hoe oud ‘n mens moet wees voordat jy sondig met die sout en suiker nie, maar met die rokery is dit 18 jaar.

Ek hoor die agbare minister van handel en nywerheid is nou ook besorgd oor ons welstand en het voorgestel dat die wettige ouderdom om alkohol te mag gebruik, verhoog moet word van 18 tot 21jaar.

Gelukkig is ek lankal bo die ouderdomsbeperking en gelukkig is ek nie ‘n drinker nie, behalwe vir ‘n biertjie of twee nou en dan, maar nooit meer as twee nie.

Na my beskeie mening gaan die verhoging in die ouderdomsbeperking nie veel help om alkohol-verwante misdaad en padsterftesyfers te laat afneem nie.

Pêlle bo 21 jaar gaan steeds vir die minderjariges drank koop, net soos hulle sigarette vir hulle koop en die onverantwoordelikes gaan steeds in ‘n besope toestand agter die stuurwiel inklim, of hy of sy 18 of 81 jaar oud is.

Lê die antwoord nie eerder in swaarder strawwe vir dronkbestuur nie?

Ongeag die ouderdom.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button