EntertainmentLifestyle

Nagmark is ’n geleentheid vir saam kuier en verhoudings bou

Kruikgemeente se Nagmark skep die ideale geleentheid vir die gemeenskap om bymekaar te kom en om verhoudings te bou.

SECUNDA – Kruikgemeente het Vrydagaand, 4 November hul Nagmark aangebied.

Volgens mnr. Rowland Jones, een van die organiseerders, bied die kerk die Nagmark sowat vier keer per jaar sodat lede van die gemeenskap en niewinsgewende organisasies ’n geleentheid kan hê om geld in te samel.

“Die nagmark is ’n inisiatief wat ons die geleentheid gee om saam met mekaar as gemeente en die wyer gemeenskap te stap.

“Ons wil ’n geleentheid vir mense skep om saam te kuier en saam kerk te beleef op ’n informele en sosiale manier.

“Kruikgemeente wil meer wees as net ’n erediens op ’n Sondag en wil ’n verskil maak in mense se lewens en deur die nagmark te hou, skep ons terselfdertyd ’n spasie vir verhouding waardeur ons mense kan bereik.

“Ons glo dat elke mens wil behoort, maar dat nie almal altyd weet hoe nie en die Nagmark gee ons die geleentheid vir konneksie.

“Daar is natuurlik ook die bonus van lekker kos, pannekoek, soetgoed en geskenkies vir elke lid van die gesin.”

Die mark verkoop ’n wye verskeidenhied van tuisgemaakte lekkernye en produkte.

Een stalletjie wat veral die aandag getrek het, was die 100% Ouma’s-stalletjie van me. Winnie Steenkamp, haar suster, me. Hettie Thompson, en me. Dina Rossouw.

Dié drie oumas is geseën met 13 kleinkinders tussen hulle en het besluit om handgemaakte produkte te begin verkoop.

Me. Steenkamp het verduidelik hoe hulle tot dié besluit gekom het: “Ons het besef ons het deesdae bietjie meer tyd op ons hande en dat daar nog ’n mark is vir goeie gehalte handgemaakte produkte.

“Daar is byvoorbeeld nog ’n behoefte vir popklere, want glo dit of nie, kinders speel steeds pop.”

Hulle het begin om popklere, gehekelde truitjies, juwele, tafelmatjies en allerhande ander keurige tuisgemaakte produkte te maak en dit dan vir die lekker by markte te verkoop.

Hulle doen dit al vir bykans drie jaar en baie mense kom soek hulle op by markte.

Me. Rossouw het verduidelik waar hul naam vandaan kom: “Ons het besluit ons moet ’n naam kry vir ons stalletjie en ons produkte en ’n vriendin maak toe die opmerking dat ons mos al drie oumas is en al ons produkte is 100 persent tuisgemaak, so 100% Ouma’s het net reg geklink.

Volgens haar is al hul produkte uniek en doen hulle moeite daarmee om nie net een vaste patroon te volg nie.

“Alles het ’n spesiale of persoonlike afwerking en ons het nie sommer duplikate nie.

“Ek maak die juwele en net een ontwerp van elk.”

Hoewel hulle nie regtig op bestellings werk nie, kan iemand wat op soek is na ’n spesifieke produk, hulle gerus kontak.

“As daar ’n dogterjie is wat droom oor ’n poprokkie of ’n vrou wat ’n spesifike kleur truitjie wil hê, behoort ons hulle te kan help.”

Skakel 082 9272510 of 072 792 1197.

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button