EntertainmentLifestyle

Gemeentes staan saam om suksesvolle Pastoriemark aan te bied

Vanjaar word die geld van die pastoriemark aan die Christelike Maatskaplike Raad, nou bekend as Tutela, geskenk.

BETHAL – Die vierde Pastoriemark word vanjaar deur die N.G. Kerk Bethal-Oosgemeente vanaf 29 November tot 2 Desember aangebied.

Daar is besluit om voort te gaan met die mark wat voorheen deur die N.G. Kerk Bethal-Noordgemeente aangebied is.

Die hoofdoel van die Pastoriemark is om uitstallers die geleentheid te gee om hul artikels en produkte te bemark en vir die publiek om artikels te bekom wat nie altyd in die winkels beskikbaar is nie.

Terselfdertyd kry die gemeenskap een keer per jaar die geleentheid om ou vriende en kennisse van Bethal en buurdorpe raak te loop en saam te kuier.

Vanjaar word die geld aan die Christelike Maatskaplike Raad, nou bekend as Tutela, geskenk.

Die deure sal daagliks vanaf 9vm tot 7nm oop wees.

Dit blyk dat vanjaar se hoeveelheid uitstallers die vorige jare gaan oortref.

Artikels van die vorige top verkopers gaan ook weer by die mark te siene wees.

Bokmelkprodukte, groot en klein koeksisters, klein koekies, droë vrugte, vrugtekoeke, beskuit, fudge, klapperys, brownies, Hertsoggies, repelsteeltjies, konfyt, gebottelde groente en geelmeel is van die smaaklike eetgoed wat by die mark te koop gaan wees.

Daar is ook die kunstige, unieke en handgemaakte artikels vir persoonlike bederf of wat ideaal vir Kersgeskenke is.

Hekel en handwerk, houtitems, draadwerk, skilderwerk, kombuisartikels, boeke, juwele, krale, tuinmeubels, opvoedkundige speelgoed, handsakke, baba-items, poppe en pophuismeubels, diere-artikels, braaigereedskap, scrapbooking, borduurwerk, klere, skoene, mosaic insetsels, sandkuns en nog verskeie interessante artikels gaan alles onder een dak wees.

Die teetuin gaan ook daagliks vanaf 9vm tot 4nm oop wees vir ’n soet- en soutlafenis.

Wegneemaandetes sal weer vanaf 4.30nm tot 7nm te koop wees teen R50 per persoon.

Bobotie, hoenderpastei, lasagne en gebraaide hoender met slaai gaan al om die ander aand bedien word.

Bestellings vir aandetes kan vooraf gedoen word by die teetuin se organiseerders, me. Maxie Steenkamp by 082 401 4840 en me. Ella Louw by 072 548 1329 om teleurstelling te voorkom.

Van Bethal se musikante gaan ook tydens die mark vir ligte agtergrondmusiek sorg.

Enige opkomende kunstenaar wat van die blootstelling gebruik wil maak, kan Ingrid Human skakel by 082 923 0211.

Die mark vind op die terrein van N.G. Bethal-Oosgemeente op die hoek van Hoëveldlaan en Wichtstraat plaas.

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button