Musiekvideo in Standerton verfilm
Die Plaas Erdzak het eerste aan die beurt gekom en is juis op besluit vanweë die mooi atmosfeer en die boomlanings wat dit leen tot die vertel van 'n bruilof.
‘n Plaaslike inwoner, mnr. Jaco van Dyk, videograaf, redakteur en regisseur van Bright-lens produksie, het op 1 en 2 Desember ‘n musiekvideo op Standerton geskiet.
Die sanger, Sonette Gouws, het al die pad van Polokwane gereis om die geestelike liedjie, geskryf deur past. Willie Botha, by verskillende plekke op te neem.
Die musiekvideo, “Jy is myne”, beeld die verloop van gebeure tot by die huweliksbelofte uit.
Die Plaas Erdzak het eerste aan die beurt gekom en is juis op besluit vanweë die mooi atmosfeer en die boomlanings wat dit leen tot die vertel van ‘n bruilof.
“Ek het gehoop dat die weer saamspeel om ‘n sukses van die musiekvideo te maak,” het mnr. Van Dyk gesê.
Ander ondernemings soos die Kliphuis, French Toast en die N.G. Moedergemeente se Klipkerk is ook ingespan om reg aan die kreatiewe proses te laat geskied.
Verskeie inwoners soos mnr. Jaco Boshoff, me. Leana Boshoff, me. Janelize Hefer en mnr. Jacques Rossouw maak ook hulle buiging op die video. Ander Standertonners soos me. Michelle Steyn het die grimering behartig, me. Elize Smith het met die reëlings gehelp, me. Alta Schoonraad was behulpsaam met die foto’s en mnr. Dwain Lourens het met die lugfoto’s hand bygesit.



