Liza sien uit na blink toekoms
Liza van Deventer is ’n plaaslike aktrise wat op die drumpel van ’n blik loopbaan in die filmbedryf staan.
SECUNDA – Liza van Deventer was vier jaar oud toe sy besef het waar haar geluk sou lê.
“Ek moes alleen ’n gedig opsê vir my skoolkonsert toe ek nog baie jonk was.
“Ek het op my pa se skoot gesit terwyl ek dié gedig opgevoer het.
“Die adrenalien en opwinding van daardie eerste optrede van my lewe was verslawend en ek het nog nooit weer teruggekyk nie.”
Met die nodige ondersteuning van haar ouers, het Liza se droom stukkie vir stukkie begin waar word.
“Ek leef my droom en vind my toevlug daarin om toneel te speel en te dans.”
Die dag toe sy uiteindelik gevoel het dat sy op die regte pad is, is toe sy haar eerste advertensie vir ’n groot klerewinkel gemaak het.
“Ek het in Umdloti in KwaZulu-Natal vir ’n jaar gewoon en in daardie tyd het my loopbaan nie regtig gevorder nie.
Sy het na Johannesburg getrek en binne die eerste twee weke in die stad ’n rol in ’n advertensie losgeslaan.
Van daar af het haar ster net blinker en blinker geskyn.
Een van haar gunsteling dae tot dusvêr, was toe sy haar eie toertjies vir ’n versekeringsmakelaar se televisie-advertensie moes doen.
“Hulle het my met toue en harnasse vasgemaak en ek kon teen die kant van ’n hoë gebou tussen die muur en die brandtrapreëling rondspring.
“Ek het soos ‘Superwoman’ gevoel.”
Hoewel sy al in verskeie films gespeel het, onder andere Rest in Peace, ’n kort film wat in 2016 voltooi is, Warning: Lunatics Abound (2014), Quatre, ’n kortfilm wat in 2014 voltooi is, Attractifying Glasses, Hope Dancer en die televisiereeks Bennington Gothique, sien sy haar rol in die plaaslike televisiereeks Skeem Saam, as een van die hoogtepunte van haar loopbaan.
“Die feit dat ek die rol gekry het, was ook vir my ’n teken dat ek op die regte pad is. “Ek het die Sondag gegaan vir my eerste oudisie en teen die volgende Dinsdag het my agent my geskakel en laat weet ek het die rol.”
Dit is egter nie net glans en adrenalien in dié bedryf nie en Liza moes onlangs die moeilike besluit neem om uit ’n produksie te onttrek omdat die rol vir naaktheid gevra het.
“My rol was bevestig vir ’n Amerikaanse produksie vroeër vanjaar, maar ek moes onttrek omdat ek nie gemaklik gevoel het met die naaktheid waarvoor die rol gevra het nie, en die vervaardigers was nie bereid om met my te onderhandel nie.
“Dit was ’n vreeslike moeilike besluit, maar ek weet iets beter sal oor my pad kom en ek voel sterk daaroor om nie my waardes prys te gee vir ’n rol nie.”
Hoewel sy gelukkig is met haar huidige rol, sien Liza uit na haar toekoms.
“Ek sien myself terug in Los Angeles saam met my man en ons twee honde waar ek as akteur werk.
Los Angeles is ’n goeie basis vir enige iemand in die filmbedryf, maar Liza weet dat daar baie geleenthede wêreldwyd is vir akteurs wat bereid is om hard te werk.
“Ek is veral opgewonde oor al die internasionale produksies wat plaaslik verfilm word en die geleenthede wat daaruit voortspruit.”
Liza vind haar inspirasie in verskeie sterk vroue in die film- en vermaaklikheidsbedryf.
“Ek hou baie van Lena Dunham, die skrywer en een van die akteurs van die televisiereeks Girls, en geniet haar kreatiwiteit en uitgesprokenheid.
“Plaaslik het ek groot waardering vir Fiona Ramsey.
“Sy is ’n ongelooflike talentvolle en elegante vrou en ek leer baie by haar.”
Liza kry ook tans afrigting by Fiona.
“Ek geniet dit ook om na films te kyk en een van my gunstelinge is Girl, Interrupted en ek dink Angelina Jolie is briljant daarin.”



