Oud en jonk blaas stoom af by Secunda Steamers se nagmark
Secunda Steamers se doelwit is om in 2018 die nasionale miniatuurstoomtreindag aan te bied.
SECUNDA – Secunda Steamers se doelwit is om in 2018 die nasionale miniatuurstoomtreindag aan te bied.
Om dít te kan doen, moet die roete, spore en stasie aan sekere vereistes voldoen.
Hulle het die naweek die Kersnagmark gereël om geld in te samel om dit moontlik te maak.
“Secunda Steamers is die mense wat elke Saterdag en Sondag hul tyd by die Eendedam opoffer om almal se kindertjies op en af langs die dam op hul pragtige stoomlokomotiewe te laat ry,” het me. Chantél Vorster wat al die reëlings vir die mark behartig het, verduidelik.
“Die hoofdoel van die mark was om vir die gemeenskap ’n onvergeetlike aand te reël en om geld in te samel deur middel van die stalletjies.
“Die geld gaan vir die opgradering van Secunda Steamers.
“Die uiteindelike doel is die nasionale stoomtreintjiedag op Secunda.
“Dit is nog ver, maar hulle het baie werk om te doen voor dan.
“Hoe asemrowend sal dit nie wees om hordes treintjies van heinde en verre op ons dorp te aanskou nie,” het me. Vorster gesê.
Kinders was veral opgewonde oor die hoeveelheid kindervermaak wat dié dag vir hulle gereël is.
Oud en jonk het van vroegoggend treinritte geniet en daar was ’n groot verskeidenheid uitstallers.
Little Paws Big Hearts het ook die Rails and Tails 2km-pretloop aangebied.
Hond en sy baas het om die Eendedam gestap en deelnemers het elkeen ’n medalje ontvang.
Die organiseerders beplan om weer in die toekoms so ’n mark aan te bied.
Modern Collusion and Repair Centre het met hul Kersvaderwa ’n draai gemaak en vir kinders lekkergoed uitgedeel.
















