Hartebreker en “drama-nerd” kom bymekaar
Enige tiener sal hom of haarself in dié rolprent kan inleef.

HOëVELD – Enige tiener sal hom of haarself in die rolprent, Jou Romeo, kan inleef.
Alledaagse gebeure en die werklikheid wat weerspieël word, sal tieners vasgenael voor die skerm hou.
Daar is ’n karakter waarmee elkeen hom of haar kan vereenselwig.
Die bekende Dirk Wessels, wat ook een van die hoofrolle in die rolprent Hoofmeisie vertolk het, kan weer in Jou Romeo gesien word.
Die rolprent wys waar sport en kultuur bymekaar kom en twee tieners se wêrelde bymekaar kom.
Marko Marias, vertolk deur Wessels, is die hartebreker, sportster asook die gewildste seun in die skool.
Elani Dekker vertolk die rol van Yvette Verwey, ’n rooi slimkop waarna almal as ’n “drama-nerd” verwys.
Die begroting vir die skool se drama, Romeo and Juliet, word gesny vir opgraderings aan die krieketklubhuis.
Die verpletterde dramasiele Yvette en Tyler, maak plan om hul opvoering te red.
Dié plan het egter onverwagse gevolge vir die nuwe held van die opvoering, die hartebreker Marko.
Marko moet nou met die “drama-nerds” meng en wou nooit vantevore saam met hulle gesien word nie.
Hy moet vir Yvette vra om hom met wiskunde te help.
Die band wat tussen hulle vorm, bly egter nie net by wiskundeklasse nie en Marko moet sy trots in sy sak steek.
Jou Romeo sorg vir goeie vermaak en die humorsin is skerp genoeg om tieners en volwassenes te laat lag.
Die storielyn bly interessant en sal veral tienerdogters se verbeelding prikkel.
’n Goeie tienertoneel wat vars en Afrikaans is, laat die kyker na meer Afrikaanse films uitsien.
Diaan Lawrenson, 7de Laan se Paula, vertolk die rol van Juf. Goosen en Dirk Stoltz vertolk die rol van die skool se krieketafrigter.
Of jy nou ’n tiener is of net lief vir fliek is, Jou Romeo se goeie toneelspel sal nie teleurstel nie.



