EntertainmentLifestyle

Afrikaanse riller-komedie draai nou in teaters

Slimsnaakse moordstorie met soveel fyn kinkels dat jy jou asem gaan ophou terwyl jy heerlik lag.

SECUNDA – Hoener met die Rooi Skoene, ’n Koos Roets-film, is nou in teaters en is ’n moet kyk.

Dit is ’n film wat nie net oor die liefde en om verlief te wees nie, handel.

Dié Afrikaanse riller-komedie is van goeie gehalte en sal jou boonop laat skater van die lag.

Bekendes soos Lizz Meiring, Deon Lotz, Dorette Potgieter en Flip Theron is weer op die silwerdoek.

Lida Botha wat bekend is vir haar rol in die televisiereeks Ouma en oupa sit op die stoep ,is weer op haar stukke in dié film.

“Dit is ’n aweregse, slimsnaakse moordstorie met soveel fyn kinkels dat jy jou asem gaan ophou terwyl jy heerlik lag,” het Lizz Meiring wat die rol van Bonnie van der Byl, vertolk gesê.

“Die karakters is uniek en Hoener met die Rooi Skoene is oorspronklik en magies.

“Net so fassinerend en eksentriek soos die onontdekte juweel dorpie waar ons verfilm het, Klaarstroom, weggesteek in die hart van die Klein Karoo.” het sy bygevoeg.

Bonnie is ’n ontvangsdame van die internasionaal bekende De Waal Teateragentskap.

Terwyl sy een aand weer lustig voortklets op die telefoon, vermoor iemand haar baas, die suksesvolle maar minder gewilde sakeman en impresario Du Toit de Waal, vertolk deur Deon Lotz.

Sy tref hom aan met ’n dolk in sy rug op die kantoortafel agter haar en skakel dan die polisie.

By nadere aanskoue van die bloeiende baas, word sy oudergewoonte flou.

As sy met die flitslig van konst. Mickey Mentz (André Weideman) in haar oë bykom, is die lyk skielik skoonveld.

Hiermee is die tafel gedek vir ’n spannende, skreeusnaakse riller-komedie vol verrassende kinkels waarin die ontvangsdame met haar bekkige papegaai, Napoleon, en die hoogs beneukte, geïrriteerde en grieperige speurder, kapt. Hendrik Greyling (Louw Venter) sentraal staan.

“Die fliek is gebaseer op ’n ou Franse teaterstuk en die misterie rondom die naam word in die eerste paar minute tot groot vermaak van konst. Mentz opgeklaar,” het Koos Roets gesê.

Tydens die ondervragingsessie na die moord, word al die interessante karakters op kantoor in ’n klousterfobiese ruimte saamgegooi.

Dit is dan wanneer allerlei interessante geheimpies ontbloot word, soos dat Cecilia de Waal (Dorette Potgieter), die aantreklike veel jonger vrou van die baas, meer as een skelmpie het en die ouer privaatsekretaris, Miss Enith Conradie (Lida Botha) is al jare verlief op die baas.

Daar is ook die ligsinnige Roxie Roos (Laré Birk), die baas se minder gewillige pretpoppie.

Midde in dié storm van verdagmakery en beledigings, verskyn die baas se “lyk” dan weer skielik perdfris en gesond op die toneel .

“Dit is nie ’n fliek wat vir mense lewenslesse moet leer nie.

“Ek het die fliek gemaak met een doel voor oë en dit is om mense te vermaak.

“Daar is genoeg nonsens in ons land waaroor almal hulle kwel.

“Mense moet net ’n bietjie kan terugsit, ontspan en lekker lag.

“Dit is nou wanneer jy nie te veel skrik vir die moordenaar nie,” het hy bygevoeg.

Die humor en snaakse insidente is toevallig en die karakters eg, mense wat werklik kan bestaan.

Hoener met die Rooi Skoene sluit ook die verskyning van gasspelers in soos Anton Goosen, Leon Ecroignard, Soli Philander en Goitsemang Lehbye.

As jy lekker wil lag en ’n Afrikaanse film met ’n verskil wil kyk, maak seker jy mis nie dié een nie.

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button