EntertainmentLifestyle

Kunsskool open op Secunda

Rika Scholtz se droom van haar eie kunsskool het vanjaar ’n werklikheid geword.

SECUNDA – Me. Rika Scholtz het verlede jaar daarvan gedroom om haar eie kunsskool oop te maak en vandag is dié droom ’n werklikheid.

Kreatiwiteit was nog altyd deel van haar lewe en sy het dit oor die afgelope paar jaar op verskeie maniere uitgebeeld.

Me. Scholtz is bekend vir haar lekker fudge en het al van haar kunswerke in Suid-Korea uitgestal.

Sy het ook onlangs ’n inkleurboek met besondere mooi mandalas vrygestel.

Me. Scholtz het vroeg in Januarie die deure van haar eie kunsskool oopgemaak.

“Ek noem my skool Elements Kuns- en Ontwerpskool omdat ek glo mense moet by die basiese beginsels van kuns begin en sorg dat jy ’n goeie basis vir die uitleef van jou kreatiwiteit het.”

Sy het verduidelik dat enige iemand kan leer hoe om iets kunstig te doen.

“In die Renaissance-tydperk het hulle geglo kuns is soos enige ander ambag wat mens kan aanleer.

“Natuurlik is daar mense met ongelooflike natuurlike talent, maar dit beteken nie elke mens kan nie leer hoe om met ’n kwas, potlood of klei homself kreatief uit te leef nie.

“Daar is ’n wye verskeidenheid mediums beskikbaar, enige iets van teken tot houtwerk tel vir my as kuns en ek help ook graag ouer kinders wat kuns op skool neem om die meeste uit hul klasse te kry.

“My droom is dat mense van alle ouderdomme die vreugde van kreatiewe skepping moet ondervind.”

Volwassenes wat nog nooit kunsklasse geneem het nie, maar belangstel om te leer, moet glad nie geïntimideerd voel nie.

Hulle kan met me. Scholtz praat en saam besluit watter medium die beste by hulle pas.

“Ouderdom is nie belangrik nie.

“My jongste studente is net vier jaar oud en een van my studente is ouer as 30 en begin nou eers met pottebakkery of beeldhou.

“Mense spot altyd en sê hulle kan darem stokmannetjies teken, maar selfs al kan jy nie eers dít doen nie, is jy welkom by my kunsskool.”

Ouers hoef ook nie bekommerd te wees om die regte kunsmateriaal vir hul kinders te koop nie, want die klasgeld vir die kinderkunsklasse sluit alle materiaal in.

“Dit is net makliker om dit so te doen, anders moet ma of pa nog die aand voor die klas hoor hul kind kort pastelle of karton.

“Kinders moet hier kom ontspan en die ouers moet rustig kan wees.”

Me. Scholtz glo kreatiwiteit is die basis vir alle ontwikkeling en kinders wat leer hoe om hul kreatiwiteit uit te leef, sal volwassenes word wat op unieke en vindingryke maniere tot die samelewing kan bydra.

Sy is opgewonde oor die geleentheid om haar liefde vir kuns met ander te deel.

“Dit voel asof ek uiteindelik dit gekry het wat ek vir die res van my lewe wil doen en ek kan myself nou uitleef en daagliks kreatief wees.”

Me. Scholtz bied ook werkwinkels aan vir mense wat nie noodwendig weekliks wil klas loop nie.

Die volgende een is ’n loodglaswerkwinkel op Saterdag, 11 Maart teen R300 per persoon.

Vir meer inligting oor kunsklasse of werkwinkels, skakel haar by 082 421 9552.

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button