EntertainmentLifestyle

My Oupa se Perd en die Opslagkoeël – nóg ’n storie uit die boek van Hendrik Hancke

‘Toe hy in die sig van die Tommies kom, geweer oor die skouer en ‘n mank perd aan die hand, word die geweervuur net daar gestaak en wag hulle dat my Oupa eers aan die anderkant van die hoogte kom voor dit hervat word!’

BETHAL – Nog ’n staaltjie uit mnr. Hendrik Hancke se boek, Kleintyd Herinneringe & Kontrei-stories, “My oupa se perd en die opslagkoeël”.

Die Burgers het vroeg reeds begin met guerilla-taktiek weens die feit dat hul baie meer beweeglik was as die Britse magte wat steeds gehou het by die minder beweeglike konvensionele manier van oorlogvoering.

Tydens een van hierdie skermutselings, moontlik die “Slag van Bakenlaagte” tref ‘n opslagkoeël my Oupa se perd in die knie.

Uit die aard van die saak was die impak van die koeël al baie verminder maar tog sodanig dat die perd se voorbeen beseer is en dat die knie styf was.

Na hewige vuur deur die Tommies besluit die Boere om vinnig pad te gee en later vanuit ’n ander hoek aan te val.

Met ’n mank perd was my Oupa gestrand.

Een van sy mede-burgers jaag toe tot langs hom, bring sy perd tot stilstand en skree:

“Hennie spring op, hulle skiet kwaai!”

Oupa Hendrik weier en beduie dat die burger moet aanjaag.

Hy gooi sy geweer oor sy skouer, vat sy perd met die stywe knie se leisels en begin hom stadig weglei.

Toe hy in die sig van die Tommies kom, geweer oor die skouer en ‘n mank perd aan die hand, word die geweervuur net daar gestaak en wag hulle dat my Oupa eers aan die anderkant van die hoogte kom voor dit hervat word!

Nadat die skermutselinge tot ’n einde kom en Oupa weer saam met sy kommando was, bekyk hy die wond van sy perd en sien dat die koeël geen been gebreek het nie, maar vasgesit het tussen die kniegewrig en die sterk sening wat oor die knie loop.

Hy haal sy knipmes uit en grawe die koeël uit, vul die wond met “Bells Ghries” en draai dit met ‘n lap toe.

Na ’n week of twee is die knie ten volle genees en die perd doen verder onder die saal sy plig vir die Boere kommando.

Uit hierdie verhaaltjie aan my as kind oorvertel val daar ’n paar dinge my op:

Eerstens, dat daar te midde van ‘n wrede en gemene oorlog met konsentrasiekampe, ook dalk weens die alombekende feit van die Britte se liefde vir perde en agting vir heldemoed, ’n oomblik van “ridderlikheid” was wat dalk die lewe van my Oupa gespaar het!

Tweedens, die liefde, kennis, beheer en aanvoeling van my Oupa met perde was onlosmaaklik deel van hom.

Volgens die boek van W H Ackerman oor die Boere-oorlog word my Oupa besing as die “Beste perderuiter” op kommando!

Hy het later met meer as sewehonderd perde op die Hoëveld geboer en ’n groot bydrae gelewer tot die totstandkoming van die nou, welbekende Boerperd van Suid-Afrika.

Ten laaste die wonderlike genesende eienskap van die ou-ou “Bells Ghries” wat gebruik was om ossewaens te smeer maar daarby sóveel wonde van mense en diere ontsmet en genees het!

Om ’n kopie van mnr. Hendrik Hancke se stories te bestel, stuur ’n epos na aurorabooks@ymail.com of hendrikhancke@gmail.com.

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button