Krag-en waterprobleme lei tot frustrasie op Standerton
“Dit is onaanvaarbaar dat konstante kabelfoute sowel wyk 10, as omliggende plaaslyne, beïnvloed,” het me. Venter gesê.
Die treurmare vir wyk 10-inwoners is reeds ’n geruime tyd aan die gang met elektrisiteit- en wateronderbrekings wat hoogty vier.
Me. Wilma Venter, VF Plus-raadslid, het op Donderdag 2 Desember gesê dat die swaar stormweer wat Standerton beleef het, Eskom se infrastruktuur beskadig het.
Volgens me. Venter, het gepoogde kabeldiefstal in Vrystraat die ekonomie van die dorp ’n knou toegedien omdat sake-ondernemings meer as 24 uur sonder kragtoevoer was.
Ook moes middernagtelike herstelwerk aan ’n mini-substasie by die kruising van Stander- en Charl Cilliersstraat gedoen word.
“Dit is onaanvaarbaar dat konstante kabelfoute sowel wyk 10, as omliggende plaaslyne, beïnvloed,” het me. Venter gesê.
Volgens haar, sal meeste probleme voorkomend beheer kan word as laaghangende takke in wintermaande gesnoei word.
Die Standerton Advertiser het voorheen die standpunt van die VF Plus gepubliseer nadat Meyerville swaar gebuk gegaan het onder kragonderbrekings.
“Dit is onaanvaarbaar dat die munisipaliteit oor geen hidroliese hyskraan beskik vir sulke projekte nie,” is gesê.
Voorts is aangevoer dat Lekwa in ’n hyskraan moet belê om die veiligheid van inwoners te verseker in gevalle wanneer laaghangende takke afbreek.
Mnr. Corné Stoltz, wyksraadslid vir Meyerville, het op Donderdag 2 Desember gesê dat die burgemeester, mnr. Louis Delani Thabethe, hul ingelig het dat daar ooreengekom is met die munisipale bestuurder en hoof finansiële beampte om ’n hidroliese hyskraan te koop.
Aankoopprosedures het begin en dit sou na verwagting Vrydag of Saterdag op Standerton wees.






