Farmaseutiese maatskappy reik ‘n helpende hand uit
Solidariteit Helpende Hand, met die hulp van Fagron Pharmaceutical Compounding Services, het seker gemaak dat niemand in Roodepoort die risiko loop om die koronavirus op te doen weens finansiële beperkings nie
In hierdie donker tye is die ware helde diegene wat lig bring in die lewens van mense wat minder het. Terwyl dit vir sommige mense tydens die koronaviruspandemie maklik is om hul hande skoon te hou, is dit vir ander ‘n absolute luukse.
Solidariteit Helpende Hand, met die hulp van Fagron Pharmaceutical Compounding Services, het seker gemaak dat niemand in Roodepoort die risiko loop om die koronavirus op te doen weens finansiële beperkings nie.
Fagron het hul deel gedoen deur verskeie persoonlike beskermingsitems op Maandag, 24 Augustus aan Solidariteit Helpende Hand se tak aan die Wes-Rand te skenk. “By Fagron is die geïndividualiseerde behandeling van pasiënte ons topprioriteit. Daarom is dit vir ons ‘n groot voorreg om te kan help met die nodige beskerming tydens hierdie pandemie wat al soveel pyn in ons pragtige land veroorsaak het,” het Kobus du Plessis, Fagron se Algemene Bestuurder gesê.
Die skenkings het uit 140 maskers vir volwassenes, 110 maskers vir kinders en 300 bottels saniteerder bestaan. “Baie dankie aan Fagron vir hul donasies. Elke bietjie help ons om voorsiening te maak vir diegene wat dit die nodigste het,” het Mariëtte van der Werken van Solidariteit Helpende Hand gesê.
Kobus het bygevoeg, “Dankie aan Helpende Hand wat hierdie geleentheid moontlik gemaak het. Julle doen ongelooflike werk en ons het groot waardering vir julle.”



