Droomrokke laat matriekafskeiddrome waar word
Solidariteit Helpende Hand besef hoe belangrik dit is om vir 'n jong meisie hierdie oomblik so spesiaal te maak dat sy dit vir altyd kan onthou.
Die matriekafskeid is die groot finale viering van 12 jaar se harde werk. Dit is ‘n tyd om terug te kyk en trots te wees op jou prestasies, terwyl jy ook uitsien na die eindelose moontlikhede van die toekoms.
Daardie perfekte rok is die spil waarom enige onvergeetlike matriekdans draai. Vir die seuns is ‘n eenvoudige pak voldoende, maar vir die meisies is die uiteindelike doel om hul medeleerders se monde behoorlik te laat oophang van bewondering. Die werklikheid is egter dat hulpbronne in hierdie wrede ekonomiese klimaat skaars is en buitensporige uitgawes ‘n absolute luukse is.
Solidariteit Helpende Hand besef hoe belangrik dit is om vir ‘n jong meisie hierdie oomblik so spesiaal te maak dat sy dit vir altyd kan onthou. Hulle het ‘n landswye projek wat vroue aanmoedig om matriekafskeidrokke wat hulle nooit weer sal dra nie, te skenk om iemand anders bly te maak. Jong meisies wat nie die geld het om ‘n luukse rok aan te skaf nie, kan een by Helpende Hand se Ons Winkel huur. Al wat hulle hoef te betaal is die koste om die rok te laat droogskoonmaak.
Die sangeres en liedjieskrywer, Demi Lee Moore, steun die Droomrokke-projek geplaas en het al verskeie van haar eie rokke geskenk. By die bekendstelling van die projek het sy gepraat oor die belangrikheid van ‘n matriekafskeid vir jongmense, en hoe sy meegevoel het met diegene wat nie ‘n droomrok kon kry nie. Sy het almal aangemoedig om dieper in hul kaste te delf en gesê, “Raak betrokke en help ‘n behoeftige meisie om haar glansaand spesiaal te maak”.
Helpende Hand se Ons Winkel ontvang geen ander inkomste as donasies nie, en alle skenkings, groot of klein, word vir die aankoop van die nodige hulpbronne gebruik.
Vir meer inligting oor hoe jy kan help, kontak Jooste by 072 219 2386 of Adrian by 071 548 8014.



