Familie verloor ma, pa en seuns in vyf maande
Die Croucamp-familie is deur vyf maande van geweldige hartseer. Die jongste Croucamp-seun is in Februarie oorlede, en in Julie het die oudste seun, hul ma en pa hul stryd teen Covid-19 verloor.
‘n Plaaslike familie verwerk steeds die hartseer nadat hulle in net vyf maande van vier familielede moes afskeid neem.
In 1985, nadat Barney Croucamp sy werk as paneelklopper in Johanneburg verloor het, het hy Barney’s Panelbeaters geopen. Later het sy vrou Udie uit haar werk by die bank bedank en by hom aangesluit.
Na skool het hul jongste seun Gerhard by die onderneming begin werk, so ook later hul ander seun Leon. Saam het die familie ‘n sukses van hul besigheid gemaak.
“Udie was die brein agter die besigheid. Sy was ‘n go-getter en hy was ‘n softy,” het Tania Croucamp haar skoonouers beskryf.

In Februarie is Gerhard op 50 skielik oorlede. Tania het vertel dat dit Leon gebreek het om sy broer te verloor.
Die jaar sou egter nog hartseer bring. Tania, Barney, Udie en Leon het Covid-19 opgedoen, en haar skoonouers en haar man is in die hospitaal opgeneem.
Lees ook: Town-wide run to remember a great man IN PICS
Barney, wat op 24 Augustus 90 sou word, is op 8 Julie oorlede. Twee dae later, net vyf dae na haar 78ste verjaarsdag, is Udie oorlede, en op 14 Julie het Leon in die ouderdom van 55 gesterf.

Leon en Tania was vir 28 jaar getroud en sy het vertel dat hy baie lief was vir die natuur.
“Almal ken hom as ‘n natuurliefhebber. Hy was ‘n nasionale voëlringer.” Hy het ‘n BSc Biologiese Wetenskappe verwerf met Plantkunde en Dierkunde as hoofvakke. Hy was baie lief vir kinders en om hulle te leer. Hy sou hierdie jaar sy 47ste jaar saam met die Voortrekkers voltooi het.
“Ek sal nooit die dag vergeet nie toe ons by die Voortrekkers was en sy kanoe omgeval het. Ek het so gelag dat ek hom nie kon help nie.”

Sy het haar skoonpa as ‘n regverdige, godsdiensige man beskryf wat baie lief was vir sy kinders en kleinkinders.
“Ek onthou die een Moedersdag toe ons by Ocean Basket gaan eet het, en hulle vir hom sy kos in ‘n pan gebring het. Hy het gevra of hulle bang was vir skottelgoed was. Op die ou einde het hulle vir hom ‘n bord gebring,” het sy laggend vertel.

Tania het gesê dat terwyl haar skoonma nog gewerk het sy ‘n streng maar regverdige vrou was. Udie het egter in 2006, 2011 en 2012 beroertes gehad en Tania het vertel dat hulle daarna ‘n baie hegte band gehad het.
“Sy wou altyd rondry en my skoonpa wou altyd by die huis wees. Ek het haar my skaduwee genoem, want sy wou altyd saamry.”
Sy het vir Gerhard as ‘n hardwerkende, regverdige man beskryf wat ook lief was vir die natuur. Jag en visvang was sy passies.
Haar skoonouers het vir 58 jaar op hul plot gewoon, wat Tania en Leon ook hul huis genoem het.

“Hulle almal was standvastige mense wat diep wortels in die gemeenskap gehad het. Hulle het ‘n groot impak gemaak waar hulle ook al gegaan het.”
Tania en haar familie fokus nou op die toekoms. Hulle gaan voort met die besigheid totdat hulle duidelikheid het oor die toekoms. “Die besigheid nie kan stilstaan nie.”



