Local newsNews

Familie groet hul geliefde Dirkie

Haar gunstelingherinneringe van Dirkie is sy aansteeklike lag.

Die Record het onlangs berig oor Dirk Koekemoer, wat die afgelope paar jaar moeilike tye beleef het. Sy suster, Melanie Victor, het onlangs bekend gemaak dat hy op Sondag, 15 Augustus in die ouderdom van 45 oorlede is.

Dirk – beter bekend as Dirkie – word oorleef deur sy eggenoot, drie kinders en vyf kleinkinders asook sy ouers, broer Wimpie Koekemoer en suster, Melanie.

Vir Dirkie was sy gesondheid die laaste ding waaroor hy hom sou bekommer het, totdat sy lewe ongeveer drie jaar gelede onherroeplik verander het. Hy het gedurende die tydperk ‘n beroerte gehad, ‘n breingewas opgedoen, ‘n hartaanval oorleef, sy been tot onder die knie verloor en boonop het sy lewer nie behoorlik gefunksioneer nie. Hierdie ongelukkige ketting van gebeure het veroorsaak dat hy nie meer sy werk van meer as 30 jaar kon doen nie.

Hy was ‘n toegewyde sekuriteitsbeampte vir so lank as wat sy gesondheid hom toegelaat het. Hy het jare lank in ‘n sekuriteitsmaatskappy se beheerkamer gewerk en was selfs ‘n gekwalifiseerde vuurwapen- en noodhulpinstrukteur. Dirkie het graag klasse aangebied en vir mense nuwe dinge geleer.

Dirkie Koekemoer sal altyd ‘n plek in sy suster, Melanie Victor se hart hê. Foto: Alanicka Lotriet.

“Hy was ‘n saggeaarde mens. Van konflik het hy min gehou, maar moenie dink dat dit hom gekeer het om agter ‘n krimineel aan te hardloop nie. Ek het die voorreg gehad om die laaste nege weke van sy lewe na my boetie te kyk. Dit was ‘n absolute seën om hom by my te kon gehad het, want saam het ons gesels en gelag. Dit was vir hom net so lekker om sy laaste tydjie saam met sy ouers te kon spandeer,” het Melanie vertel.

Al was hy hoe lief vir sy sigarette, kon niks sy liefde vir sy kinders asook sy ouers, broer en suster ewenaar nie. Haar gunstelingherinneringe van Dirkie is sy aansteeklike lag. Wanneer hy gelag het, kon sy geliefdes nie anders as om saam te lag nie. Daar was ook nie ‘n dag wat hy nagelaat het om sy dankbaarheid teenoor sy familie te toon nie.

“Ek het by hom geleer dat dit nie help om kwaad te bly vir iemand nie, maak nie saak hoe seer die persoon jou gemaak het nie. Vergifnis moet uit die hart kom en jy moet dit voor Jesus se voete neerlê. Jy moet opreg vergewe, want nadat my boeta opreg vergewe het, het hy soveel vrede in sy hart gehad. Dit is wat ek ook in my hart wil hê, want om kwaad te bly vir iemand maak op die ou end net jou eie hart swart,” het Melanie vertel.

“Ons wil ook ons dankbaarheid uitspreek vir die gemeenskap wat vir ons doeke en benodighede geskenk het. Dit het ons so baie gehelp. Dirkie laat ‘n groot leemte hier op die aarde, en ons almal mis hom vreeslik baie. Vir ‘n beter broer, seun, pa, en oupa kon ons nie gevra het nie.”

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Roodepoort Record in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button