Local newsNews

Nog ‘n plaaslike leerder gekies vir WMG-streeksfinaal

Sage is gekies vir haar monoloog oor The Babysitter RULES.

Laerskool Florida spog met een van hul leerders wat onlangs na die streekseindrondte van die World Monologue Games deurgedring het.

Dit is niemand anders nie as die talentvolle Sage Juliet Bender. Alhoewel die afgelope 18 maande nadelig was vir die kunste, het dit nie hierdie jong kunstenaar gekeer om te doen waarvoor sy lief is nie.

“Ek is baie lief vir drama, dans en sing. Die WMG bied vir my die perfekte geleentheid en platform om myself in hierdie moeilike tyd uit te druk,” het sy vertel.

Sage is gekies vir haar monoloog The Babysitter RULES. In dié opwindende stuk verander ‘n lieflike 12-jarige meisie in ‘n ware Cruella de Vil.

World Monologue Games is verlede jaar deur die Australiër, Pete Malicki begin. Sy doel was om ‘n inperkingvriendelike platform vir kunstenaars regoor die wêreld te skep.

Sage Juliet Bender is opgewonde oor die volgende rondtes. Foto: Alanicka Lotriet.

“Dit is beslis spesiaal dat ons tweede seisoen in ‘n Olimpiese jaar plaasvind. Ons het tans toppresteerders van 51 lande wat bymekaar kom om die wêreld te wys van watter stoffasie hulle gemaak is. Ek weet nie waar jy nog so ‘n uiteenlopende groep akteurs op dieselfde plek te sien sal kry nie,” het hy vertel.

Volgens Pete was daar vanjaar ‘n 40%-toename in deelnemers teenoor 2020. Die standaard was so hoog dat ‘n ongelooflike 367 optredes na die streekseindrondtes deurgedring het, wat van Augustus tot Oktober regstreeks uitgesaai word. Daarna sal die wenners van ses verskillende kategorieë meeding om $5 000 kontant in die gesogte Global Finals te wen.

“Ek is so opgewonde om my land te kan verteenwoordig in dit waarvoor ek lief is. Dit is regtig fantasties om deel te wees van hierdie wonderlike geleentheid,” het Sage ten slotte vertel.

Die tydlyn van die geleentheid kan gevolg word op https://monologues.com.au/WMG-timeline.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Roodepoort Record in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button