Musiek soos suurstof vir musikant
Nadat sy haar studies voltooi het, het sy voltyds musieklesse aangebied.
Vir plaaslike musikant, Tdrinda Woods, is musiek soos suurstof. Aangesien sy al klavierlesse sedert die ouderdom van vier neem, is musiek vir haar so natuurlik soos asemhaal.
Sy het reg deur haar kinderdae musieklesse geneem en het selfs as jong student by Unisa ingeskryf waar sy talle teoretiese en praktiese eksamens in klavier voltooi het. Terwyl sy in die hoërskool was het sy by ABRSM (Associated Boards of the Royal Schools of Music) ingeskryf waar sy haar hoërskool kwalifikasies vir klavier en perkussie voltooi het.
“Ek het boonop op hoërskool musiek as vak geneem. Aangesien ek twee instrumente moes bespeel, het ek natuurlik klavier asook verskillende perkussie-instrumente soos die snaardrom, timpani en xylofoon gekies,” het Tdrinda vertel.
Sy spits egter haar tans toe op die marimba omdat dit nie so bekend is nie. Na skool het sy deeltyds klavier- en perkussielesse aangebied.

“Ek het in daardie tyd toerisme geswot omdat dit nog altyd vir my met musiek gepaard gegaan het. Dit is vir my ongelooflik fassinerend hoe verskillende lande en kulture se musiek verskil. Elke land het hul eie klank en dis vir my pragtig – as ek optree maak ek seker dat ek ‘n verskeidenheid musiek speel wat by elke persoon sal aanklank vind,” het sy vertel.
Nadat sy haar studies voltooi het, het sy voltyds musieklesse aangebied en was gretig om een van die mees ingewikkelde instrumente – die viool – baas te raak. Sy het daarna haar LLCM in teaching (Lisentiate of the London College of Music) by die London College of Music verwerf.

Dié veelsydige musikant speel graag komplekse stukke deur bekende komponiste soos Beethoven, Mozart en Hayden.
Sy maak ook graag voorsiening vir die jonger geslag deur meer kontemporêre stukke soos Candle in the Wind en Viva la Vida te speel. Plaaslike musiekliefhebbers het haar reeds saam met onder andere die West Rand Music Festival, Rand Symphony Orchestra en die voormalige Roodepoortse Orkes sien optree.
Alhoewel die gevolge van Covid-19 haar studente emosioneel beïnvloed, motiveer sy hulle steeds met haar kalmte, positiwiteit en ondersteuning.

“Ek was die afgelope ruk baie besorgd oor die geestesgesondheid van my studente. Dit is vir my belangrik dat hulle steeds hulself kan uitdruk en dat hulle oukei is. Ek het daarom my volgende CD vir die jonger generasie, genaamd ‘Musical food to Find your Feet’ opgeneem. Ek is ook tans besig met my FLCM (Fellowship of the London College of Music) by Professional Achievement,” het Tdrinda gesê.
Haar droom is om ‘n kunsteskool te begin vir elke kunstevorm, insluitend drama, produksie, ballet en musiek. As jy meer wil sien van Tdrinda, besoek gerus haar webtuister by www.moths.co.za of kontak haar by 084 860 8003.



