Militêre veterane reik uit na skuiling
Die skuiling het 'n uitsettingskennisgewing ontvang en die veterane wil hulle help om dit te beveg.
Op Saterdag, 28 Augustus het die Suid-Afrikaanse Weermagvereniging (SADFA) Dixie-eenheid (Florida) se Militêre Veterane hul maandelikse vergadering gehou.
Die vergaderings word nie net gehou om die kameraderie tussen lede te behou en te bevorder nie, maar ook om hulp te verleen aan ander militêre veterane in nood. Kapelaan Christian Finn het die vergadering met gebed geopen, en het daarna hul spesiale gaste van Grace House Upliftment Centre hartlik verwelkom.

Dié sentrum is ‘n niewinsgewende organisasie wat skuiling en opheffing bied aan die hawelose gemeenskap van Krugersdorp. Lede van die Dixie-eenheid het dit goedgedink om uit te reik na die skuiling wat tans 34 volwassenes en 12 kinders huisves omrede hulle ‘n uitsettingskennisgewing ontvang het.
“Ons wil graag doen wat ons kan om hulle te help, en het kragte saamgespan om vir Grace House Upliftment Centre te help veg teen die uitsetting. Hulle gaan die afgelope ruk deur ‘n baie moeilike tyd,” het kommunikasiebeampte Markus Jooste vertel. Die veterane het ook klere vir die skuiling geskenk.
“Ons het ‘n visie dat die Dixi-eenheid soos ‘n arend sal wees – om in die Wes-Rand rond te vlieg en sy vlerke om die gemeenskap te vou. Ons wil sukkelende militêre veterane help en ondersteun. Die Dixi-eenheid Florida vra daarom donasies van die gemeenskap om veterane te help met onder andere voedsel, klere en krag.”

Grace House-stigters Hendrik en Lizette van Rooyen is dankbaar vir die donasie en bedank graag die veterane vir hul ondersteuning.
Vir donasies of meer inligting, skakel gerus vir kapelaan Christiaan by 072 619 5973 of vir Markus by 079 419 9885.



