Local newsNews

Beter toekoms vir kinders met verslaafde ouers

'Vandat ek kan onthou was my ouers verslaaf aan dwelms'

Meeste tieners en volwassenes beskou hul vroeë kinderontwikkelingsjare as opwindend, rooskleurig en vol beloftes van ‘n blink toekoms. Ander is gelukkig as hulle wel in ‘n kinderhuis beland.

Dit was die geval met die 16-jarige Nadia* wat die eerste vyf jaar van haar lewe in ‘n sinkdakhuisie in ‘n dwelmhool gewoon het.

“Vandat ek kan onthou was my ouers verslaaf aan dwelms. Ek was so twee of drie jaar oud toe my boetie gebore is. My ouers was nie geskik om na ons te kyk nie, en toe ek vyf jaar oud was, is ons vir die eerste keer van my ouers af weggevat,” het sy vertel.

Nadia en haar broer is gevolglik in St Laurence’s Children’s Haven geplaas waar hulle gewoon het totdat hul ouma hulle ingeneem het.

“Ons het ‘n bietjie rondgetrek en het in die proses nog ‘n boetie bygekry, wat nou tien is. Ons geluk was egter van korte duur omdat my ouma so vier jaar terug oorlede is,” het sy gesê.

In daardie stadium het geen kinderhuis plek gehad vir haar en haar boeties nie, en hulle moes noodgedwonge weer by hul ouers gaan bly.

“My pa was in die tronk en my ma was vir lang rukke nie by die huis nie. Ek moes dan na my broers kyk en seker maak hulle is oukei. Ek het nooit veilig gevoel nie,” het sy vertel.

Na ongeveer ‘n jaar was hulle gelukkig om weer by St Laurence’s te kon inskakel, en Nadia en haar twee broers kan nou weer uitsien na ‘n hoopvolle toekoms.

“Hulle behandel ons so goed hier en ons is baie ‘lucky’ om hier te kan wees. Ons is in goeie skole met goeie maats, en ons is so dankbaar daarvoor. Alhoewel ons gereeld moet help met take rondom die huis en na die kleiner kinders kyk, is dit goed want dit leer ons die nodige lewensvaardighede en ons word selfs beloon met sakgeld,” het sy vertel.

Nadia het weer hoop vir haar toekoms. Foto: Alanicka Lotriet.

Omdat Nadia een van die oudste meisies is, het sy onlangs in haar eie kamer ingetrek. Sy geniet die spasie en privaatheid wat vir haar gegun word.

“Omdat ons op die oomblik 28 kinders is, is dit ‘n bietjie besig. Al is ons almal soos een groot gesin, kan dit soms ‘n bietjie bedrywig raak. Alhoewel ons ‘n streng roetine volg het ons elkeen darem steeds ons pret en vryheid,” het sy vertel.

Die kinders het selfs die keuse om aan die Ruiter-stoeiklub te behoort. Nadia het natuurlik die geleentheid aangegryp en het al twee keer haar SA-kleure in stoei verwerf. Sy is ook opgewonde om in Oktober aan die SA Stoeikampioenskappe deel te neem.

“Die huisma’s en -pa’s is regtig lief vir ons. Hulle het altyd tyd vir ons en spandeer graag tyd met ons. Hulle druk ons om beter te doen en beter te wees. Ons sou beslis nie gewees het wie ons nou is as ons nog by my ouers was nie. Dis vir enige iemand ‘n uitdaging om sonder hul ouers te moet grootword, maar in dié geval is ons waarlik geseënd,” het Nadia ten slotte vertel.

* Nadia is ‘n skuilnaam om die identiteit van die minderjarige dogter te beskerm.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Roodepoort Record in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button