MunicipalNews

Hoofroete deur Princess hou gevaar in

Die dreins is verstop wat veroorsaak dat water amper aanhoudend in die mangate aan weerskante van die pad opstoot.

Die besturende direkteur van Roodepoort Metals, Leon du Plooy, het onlangs sy kommer uitgespreek oor die gedeelte van Albertina Sisuluweg wat deur die Princess informele nedersetting loop.

Leon, wat elke dag hierdie pad werk toe en terug gebruik, het die toestand daarvan as halglik beskryf. Die dreins is verstop wat veroorsaak dat water amper aanhoudend in die mangate aan weerskante van die pad opstoot. Groot volumes rioolwater dam dan in die pad op.

“Al die jare wat ek daar deurry stink dit so verskriklik. Iewers is daar ‘n blokkasie in die pype. Dit gaan nie noodwendig net oor ons as padgebruikers nie, maar ook oor die mense wat met hul kinders daar woon,” het hy vertel.

“Die rioolwater en die slaggate is ook nie ‘n goeie kombinasie nie. Ek het al gesien hoe die inwoners van Princess self probeer om die slaggate reg te maak deur grond in te gooi. Maar dit los nie die probleem op nie. Sodra te veel voertuie daardeur ry, of water deur die slaggate spoel, dan is dit weer soos voorheen en die gate word net al hoe dieper.”

Die lewendige, oop kragkabels hou ook ‘n groot risiko in, veral vir die kinders.

“Die kinders speel tussen hierdie kabels en dis baie gevaarlik. Wat as daar groot reën kom en hulle is naby een van die kabelpunte? Die riool en oop kabels kan nie veilig wees nie,” het hy vertel.

Leon du Plooy is bekommerd oor die situasie. Foto: Alanicka Lotriet.

Leon glo dis ook baie gevaarlik vir motoriste wat nie die area ken nie. Aangesien Albertina Sisuluweg ‘n hoofroete is, bereken die meeste GPS’e die roete deur Princess.

“Dit is so onhigiënies vir die nedersetting se mense. Hulle is ook geregtig op skoon en vars water, en iets moet gedoen word aan die probleem. Die nedersetting bestaan nie van gister af nie, maar ek het dit nog nooit so erg gesien nie. Ons kan nie al die probleme in die land oplos nie, maar ons kan iewers begin,” het hy gesê.

Leon het die kwessie sedert die begin van September by verskeie Johannesburg Water-amptenare en raadslede aangemeld, maar sy pleidooi was tevergeefs.

Volgens wyksraadslid René Benjamin is die probleem by die betrokke amptenare aangemeld. Die uitdaging is egter dat die waterprobleem eers opgelos moet word voordat die pad herstel kan word. Sodra die pad dan droog is, kan JRA die slaggate vul.

“Daar was reeds talle vergaderings tussen Johannesburg Water en JRA oor hierdie pad. Die probleem is dat sodra die lekke herstel is, begin die volgende pyp lek nog voordat die pad behoorlik droog is. Daarom is dit so moeilik om die situasie reg te stel,” het sy verduidelik.

Die Johannesburg Water-span is ook al deur sekere inwoners aangeval. ‘n Gewelddadige groep inwoners het selfs probeer om die munisipale voertuig te steel. Dié werkers kan gevolglik nie die nedersetting binnegaan sonder polisiebeskerming nie.

Die betrolle amptenare is wel bewus van die situasie en beoog om die projek van stapel te stuur.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Roodepoort Record in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button