Local newsNews

Fluitspeler eindig jaar op hoë noot

Hy speel graag klassieke musiek, en sy gunstelingstyl is dié vanuit die romantiese tydperk.

Van speelgoedinstrumente tot blokfluit en nou die ingewikkelde dwarsfluit – musiek het nog altyd deur Daniel Spies se are gevloei.

Dié 16-jarige kunstenaar het sedert hy kan onthou geweet dat hy sy lewe aan musiek sou toewy. Vir dié musikant is musiek nie net musiek nie – dit is iets baie spesiaal en persoonlik.

“Ek was nog baie klein toe ek graag wou leer fluitspeel, en nie ek of my ouers weet hoekom nie. Ek kom wel uit ‘n musikale familie, dus was daar altyd musiek om my en ek het altyd deelgeneem deur saam te sing of op speelgoedinstrumente te speel. Ek het toe al geweet dat ek net musiek wou doen en het selfs vir my kleuterskooljuffrou gesê dat ek eendag ‘n operasanger wou word,” het hy vertel.

Daniel was ses toe hy begin blokfluit speel het omrede sy handjies nog te klein vir die dwarsfluit was. Hy het ‘n paar jaar daarna by Helen Vosloo begin les neem. Helen en sy ma was albei lede van die Johannesburg Philharmonic Orchestra (JPO).

Min het hy geweet dat dié lesse die fondasie vir sy toekomstige musiekloopbaan sou lê.

“Dit was vir my ‘n ongelooflike ervaring om self musiek te kon maak en dit so met ander mense te deel. Alle musikante sal weet dat om ‘n komponis se emosies en idees deur musiek met ander te deel, ‘n onbeskryflike gevoel is,” het Daniel vertel.

Hy speel graag klassieke musiek, en sy gunstelingstyl is dié vanuit die romantiese tydperk met komponiste soos Faure en Doppler omrede daar baie emosie betrokke is.

Daniel droom daarvan om oorsee te kan studeer en daar met professionele musikante en dirigente te kan saamwerk. Hy sal graag êrens in Europa as solis of ‘n orkesmusikant wil werk, en moontlik later ‘n musiekprofessor by ‘n internasionale universiteit wees.

Dit is dus geen verrassing nie dat hy in 2017 as solis saam met die Rand Symphony Orchestra, Johannesburg Symphony Orchestra en die Gauteng Philharmonic Orchestra opgetree het.

Sy grootste kompetisie waaraan hy tot dusver deelgeneem het, was die Hubert van der Spuy Kompetisie waartydens hy in 2018 ‘n silwermedalje asook die gehoorprys verower het. Hy het in 2019 aan die NEA- (National Eisteddfod Academy) kompetisie deelgeneem waar hy as algehele wenner weggestap het.

Hy het ook die eerste prys by die Philip Moore-kompetisie gewen en is selfs genooi om as deel van ‘n kwartet saam met die wêreldbekende Michael Tsalka van Israel te speel. Daniel is boonop uitgenooi om as een van 12 studente van regoor die wêreld aan meestersklasse van professor Andrea Lieberknecht in Duitsland deel te neem.

Hy sien tans daarna uit om weer vandeesmaand as solis vir die Rand Symphony Orchestra op te tree, en is ook opgewonde omdat hy uitgenooi is om aan die National Youth Music Competition deel te neem. Die gesogte kompetisie vind van 6 tot 11 Desember in Kaapstad plaas.

“Net nadat ek teruggekom het van Duitsland af het die pandemie ons getref. Ek het dus tyd gehad om die nuwe raad wat ek gekry het, in te oefen. Dit was ook ‘n geleentheid om baie nuwe werke te leer, soos al die sonatas wat Bach vir fluit geskryf het,” het Daniel vertel.

“Ek kon ook aan Amerikanse fluitwerkswinkels deelneem en Europese meestersklasse aanlyn bywoon wat voorheen nooit moontlik sou wees nie. Dit word nou egter ‘n probleem, want ek wil graag meer oorsee gaan om daar kontakte te kry vir potensiële mentors. Ek het ook min geleentheid gehad om op te tree, so ek is dankbaar om aan die kompetisie later vanjaar te kan deelneem.”

Die talentvolle musikant is opgewonde oor dit wat die toekoms in musiek vir hom inhou.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Roodepoort Record in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button