Gelukkige trollie dash wenner skenk prys aan die kerk
"Ek bid altyd om te kan gee en te help."
Selfs al speel mens vir die pret, bly die versorging van die gemeenskap ‘n ernstige taak.
As ‘n geldinsamelingsgeleentheid het Laerskool Helderkruin ‘n tombola gehou met ‘n R1 000 Pick n Pay -geskenkbewys as prys vir die gelukkige wenner. Die trekking is op 23 Oktober deur onderwyser Karen Lourens gereël, en Ashley de Lange is as die gelukkige wenner aangewys. Sy het nie verwag om te wen nie, en toe besluit om haar prys te skenk aan diegene wat dit dalk nodiger as sy het. Die prys was aanvanklik ‘n trolly dash.
Die goedhartige wenner het haar prys aan ‘n Krugersdorp-kerk, Victory Church, geskenk. “As ‘n jong kerk kan ons baie goeie dinge doen en baie mense voed. Daar is ‘n groot behoefte in ons gemeenskap, veral in Krugersdorp. Soos Handelinge 20:35 vir ons sê: Dit is beter om te gee as om te ontvang. Ons is werklik geseën,” het die pastoor van die agtmaande oue kerk, Erik Boshoff gesê.
As ‘n spesiale verrassing het skoolhoof Peet Badenhorst aan die begunstigdes gesê dat hulle die prys van R1 000 na R5 000 verhoog het. “As Laerskool Helderkruin is ons in die gelukkig posisie om te kan gee. Uiteindelik gaan ons nie net een persoon help nie, maar deur Ashley kan ons baie mense help. Dankie aan Karen vir al haar harde werk om almal te motiveer,” het Peet gesê.
“Ek bid altyd om te kan gee en te help. Ek dink dit is die manier waarop God my hierdie geleentheid gee om te help,” het Ashley gesê.



