Bastionners lui die klok vir die laaste keer
In navolging van die tradisie het elke leerder die geleentheid gehad om die klok te lui.
Hoërskool Bastion se matrieks is opgewonde omdat hul skoolloopbaan so te sê verby is.

Op Maandag, 25 Oktober het onderwysers en leerders van Graad 8 tot Graad 11 die matrieks se opgewondenheid met hulle gedeel. Na 10 jaar se skoolgaan gevolg deur twee van die moeilikste jare denkbaar het dié groep dit steeds reggekry om met trots en ‘n goeie gesindheid bo hul omstandighede uit te styg.

Die oggend het afgeskop met ‘n kerkdiens vir die 133 Graad 12-leerders en hul ouers waarna hulle na die blokke toe is waar die res van die skool hulle ingewag het. Die matriekgroep het daar vir die laaste keer geesgevang met ‘n prettige dans en kreet.

Na ‘n hartroerende boodskap deur departementshoof Petru van Zyl was dit tyd vir die klokluiseremonie – iets waarna elke Bastionner met groot afwagting uitsien. In navolging van die tradisie het elke leerder die geleentheid gehad om die klok te lui wat die einde van hul hoërskoolloopbaan gesimboliseer het.

Daarna het hulle deur ‘n erewag van juigende leerders hek toe gestap. By die hek het elke matriek deel geword van ‘n nuwe tradisie. Elke leerder het hul naam op ‘n klippie geskryf en langs ‘n houtkruis neergesit.
Bastion is trots op die matrieks en wens hulle sterkte toe met hul eindeksamen en toekomsplanne.



