Kruiner klop internasional kompetisie by WMG
'Ek kon nie glo wat ek hoor toe my naam as een van die wenners aangekondig is nie.'

Laerskool Helderkruin se Leané Nortje het nie net haar skool se naam hoog gehou nie, maar ook haar land s’n toe sy onlangs haar mededingers in die World Monologue Games (WMG) geklop het.
Dié talentvolle Kruiner het dit reggekry om haar plek in die finaal te verseker nadat sy met kunstenaars vanuit 50 lande gekompeteer het.
“Ek kon nie glo wat ek hoor toe my naam as een van die wenners aangekondig is nie. Ek kompeteer teen die beste akteurs ter wêreld. Ek moet sê, ek voel ‘n bietjie onder druk,” het Leané vertel.
Die gesogte geleentheid word deur kenners van regoor die wêreld beoordeel. Dit sluit in bekende akteurs, filmregisseurs en hoofde van internasionale dramaskole. Meer as 100 000 kykers het reeds ingeskakel vir die kwalifiseerrondtes en streeksuitsendings.
Die stigter van die geleentheid, Pete Malicki, is in sy noppies met die reaksie wat World Monologue Games 2021 tot dusver ontvang het.
“Ons het ongelooflike kunstenaars wat hierdie jaar na die Globals vorder. Dit gaan beslis moeilik wees om die wenners in elke kategorie te kies,” het hy vertel.
Sedert die stigting van die WMG verlede jaar het ongeveer 5 000 kunstenaars uit meer as 100 lande by die spele geregistreer. Slegs 95 deelnemers het ‘n plek in die Wêreldfinaal behaal, wat bestaan uit ses kategorieë ingedeel volgens ouderdomsgroep, ervaringsvlak en duur van die monoloog.
“My monoloog handel oor Nora Morton, ‘n pragtige en ambisieuse meisie met drome oor Broadway. Sy is dikwels kwaad vir haar jonger suster, en kwaad vir haar pa omdat hy dood is. Ek is regtig opgewonde ondanks die druk en kan nie wag om op die wêreldverhoog mee te ding nie,” het ‘n opgewonde Leané vertel.
Die WMG Global Finals sal op 12, 13, 19, en 20 November regstreeks uitgesaai word. Leané kan op Vrydag 12 November in die kategorie ‘Tigers’ gesien word.



