Local newsNews

Kunstenaar, 19, leef sy droom uit

Hy sing al sedert die ouderdom van 12 en het graag tuiskonserte en 'kareoke'-aande gehou.

Dwayne Griffin, 19, ‘n oudleerder van Hoërskool Bastion, het vanjaar sy eerste enkelsnit, Soos die Seisoene bekendgestel.

Met bekende Afrikaanse konserte as dryfkrag het dié jong kunstenaar sy fondasie in die musiekbedryf begin lê.

“Toe ek jonger was het ek altyd op die mat gesit en staar na die TV waarop Afrikaans Is Groot, Skouspel en Krone besig was om te speel, en toe het ek besluit ‘Dwayne, dit is waar jy jouself eendag wil sien – op daardie verhoog saam met al die asemrowende kunstenaars, besig om jou droom uit te leef’,” het hy vertel.

Hy sing al sedert die ouderdom van 12 en het graag tuiskonserte en ‘kareoke’-aande gehou vir familie en vriende. Alhoewel hy daarvan hou om genres soos pop, rock en country te sing, lê sy hart tog by sy huistaal – Afrikaans.

Met jare se oefening en harde werk is Dwayne reeds ‘n paar treë nader aan sy groot droom om die verhoog met bekende kunstenaars te deel. Hy het al by talle byeenkomste so ver as Alberton, Pretoria en Hartebeespoort opgetree.

“As ek op die verhoog is en besig is om te sing vergeet ek van alles en fokus net op dit waarvan ek hou om te doen – sing. Een ding wat vir my baie belangrik is en wat ek met my musiek wil bereik is dat mense hulself daarmee moet kan vereenselwig en dat dit iets vir hulle beteken. Dit maak my as kunstenaar baie gelukkig en laat my goed voel as ek sien hoe geniet die mense my optredes,” het hy vertel.

Al het hy reeds talle aanhangers werk Dwayne konstant hard om sy tegniek en vokale omvang te bevorder en te verbeter met die einddoel om enige liedjie in enige genre gemaklik te kan sing.

Die veelsydige kunstenaar skryf ook graag sy eie musiek.

“Met my heel eerste enkelsnit, Soos die Seisoene, wat in Julie vrygestel is, het ‘n vriendin, Micayla Nel, my gehelp om die lirieke en die konsep van die liedjie te onwikkel. My volgende enkelsnit Het Jy Geweet wat ek in Februarie volgende jaar wil vrystel, is uit my eie pen. Dit is iets besonders en heeltemal anders,” het Dwayne vertel.

Almal weet egter dat enige kunstenaar wat sy sout werd is, ‘n muse het. Vir Dwayne is dit sy familie en vriende wat hom in elke tree van sy loopbaan ondersteun.

Dwayne Griffin droom daarvan om die verhoog met bekende Afrikaanse kunstenaars te deel. Foto: Verskaf.

“My familie en vriende glo nog altyd in my. My musikale invloed is egter Ruhan du Toit met sy unieke vokale omvang, en ek het ‘n baie groot waardering vir Riana Nel as kunstenaar en as liedjieskrywer. Ek sal baie daarvan hou om in die toekoms die eer te hê om saam met hulle te werk,” het hy vertel.

Sy grootste prestasie in die bedryf is tot dusver sy eerste enkelsnit wat op alle digitale platvorms beskikbaar is.

“Soos die Seisoene is ‘n kragtige ballade wat die hart van elkeen sal aanraak wat daarna luister. Die treffer gaan oor iemand wat ‘n geliefde onverwags in ’n tragedie verloor,” het hy gesê.

“Die lied word direk aan die oorledene opgedra en gaan oor die dinge wat hulle nie kans gehad het om vir mekaar te sê nie. Die seisoene waarvan in die liedjie gepraat word is eintlik ‘n metafoor vir die verskillende stadiums van treur waardeer iemand gaan. Ek verwys in hierdie snit nie na hy of sy nie, en so maak ek dit op almal van toepassing.”

Sy doelwit is om teen 2023 sy eerste album vry te stel. Dié album sal oorspronklike liedjies deur Dwayne bevat, asook ‘n paar ‘cover’-liedjies. Hy sal ook daarvan hou om iewers in die toekoms ‘n country-album vry te stel.

Sy raad aan ontluikende kunstenaars?

“Wees gelukkig en gemaklik met wie jy is. Daar is net een jy. Moet nooit moed opgee terwyl jy doen waarvoor jy lief is nie; daar is altyd iemand wat in jou glo. Moet nooit dink jy is alleen nie. Werk altyd hard vir dit wat jy wil hê, en jy sal dit bereik,” het hy ten slotte vertel.

As jy meer van Dwayne se musiek wil hoor, besoek gerus sy Facebook-blad, Dwayne Griffin. Hy is ook te vinde op Instagram (@dwaynegriffin.official) en ook Tik Tok (@dwayneg1901).

Sy enkelsnit is op digitale stroomdienste soos Apple Music, Spotify, Deezer, iTunes, YouTube, Amazon Music beskikbaar.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Roodepoort Record in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button