Rugbyhelde kuier vir Roodie Akademie
Jannie en Reinhard het boonop met groot ywer balle, kepsies, T-hemde en rugbytruie geteken.
Elke kind droom op een of ander stadium daarvan om eendag ‘n beroemde sportster te word.
Vrydag, 1 April was dus ‘n dag van groot opwinding en pret by die Roodie Akademie Naskoolsentrum toe die kinders met ‘n besoek van twee rugbyhelde verras is. Spelers Jannie du Plessis en Reinhard Nothnagel het die leerders toegespreek en aangemoedig om nooit hul drome prys te gee nie.

Hulle is ook aangeraai om altyd hul beste te gee, hetsy dit in die klaskamer of op die sportveld is. Daarna het die helde elke kind die geleentheid gegee om met hulle te gesels, vrae te vra en selfs foto’s te neem.
Jannie en Reinhard het boonop met groot ywer balle, kepsies, T-hemde en rugbytruie geteken.

“Ons wil graag vir Urula Botha bedank vir die ongelooflike verrassing wat sy vir die kinders gereël het. Dit is te danke aan haar dat dié groot opwinding en pret kon plaasvind,” het sentrumhoof, Tammy Buys vertel.
“Ursula neem eersdaags oor as Roodie Akademie Naskoolsentrum se nuwe eienaar. Ons wil ook graag dankie sê vir Jannie en Reinhard. Ons waardeer dit dat hulle tyd uit hulle besige skedules afgestaan het om by ons te kom kuier en die kinders te inspireer.”
Dié sportsterre het beslis elke ‘klein held’ spesiaal laat voel. Volgens die Roodie Akademie-span was dit ‘n ongelooflike dag wat almal sal onthou.

“Almal het hulself in oormaat geniet en dit was net die ding om die vakansie mee af te sluit,” het Tammy ten slotte vertel.



