Jak de Priester kuier in Roodepoort
Gaste het in 'n opgewonde luim geluister toe Jak gesels het oor die verskeie pandemie-uitdagings, liefde, kinders en die goeie ou dae.
Teatergangers is onlangs teruggeneem na die goue era van Dinsdagaand-movies by die Brooklyn Mall en die Groenkloof Spar se Sally Williams Nougats toe bekende kunstenaar Jak de Priester vir die eerste keer by die nuwe That’s Freaken Nice Teater opgetree het.

Gaste het op Vrydag, 9 September ‘n aand van kwaliteit vermaak, heerlike happies en goeie geselskap saam met Jak by die volwaardige teater – wat by die NHK Kruin in Wilropark geleë is – terdeë geniet.

Volgens bekende akteur, komediant en teaterbestuurder, Wynand van Vollenstee wou hy graag ‘n platform skep vir kunstenaars om so gou as moontlik weer op die been te kom nadat die pandemie hulle ‘n knou toegedien het, en het gevolglik dié teater in Junie vanjaar geopen.

“Ek’s self ‘n akteur en ons het deur ‘n moeilike tyd gegaan gedurende Covid. Om ‘n teater te hê is nie ‘n winsgewende ding nie, dis ‘n liefdesding. Omdat ek self in die bedryf is, is dit lekker om vir ander in die vermaaklikheidsbedryf so ‘n platform te kan gee,” het Van Vollenstee vertel.
“Dit gaan ook natuurlik oor die ontwikkeling van plaaslike talent en om vir hulle ‘n gehoor te gee. Ons wil graag die kunste hier in Roodepoort bevorder.”
Hy het hom goed van sy taak as gasheer vir dié passievolle liedjieskrywer en sanger gekwyt.
“Jak de Priester is een van ons beste skrywers van Afrikaanse musiek. Ek het baie respek vir hom, en boonop is ons al vir baie lank vriende. Dit was verskriklik lekker om gasheer vir hom te wees,” het Van Vollenstee vertel.
Gaste het in ‘n opgewonde luim geluister toe Jak gesels het oor die verskeie pandemie-uitdagings, liefde, kinders en die goeie ou dae. Hy het ook behoorlik die hartsnare getokkel toe hy ‘n liedjie aan byna elkeen van dié onderwerpe opgedra het.

Van Vollenstee hoop dat die optrede meer mense sal aanmoedig om die klein teater te ondersteun. Hy moedig mense met ‘n goeie stem of toneelstuk, wat graag in die vermaaklikheidsbedryf wil wees, aan om met hom kontak te maak.
“Ek wil graag die Roodepoort-gemeenskap bedank vir hul ondersteuning tot dusver. Deur ‘n gehoorlid te wees ondersteun jy die kunste. Ek’s ook opgewonde om te noem dat dit van groot na groter sal gaan,” het hy vertel.
Hy vra die gemeenskap om sy Facebook-blad, That’s Freaken Nice, te besoek om uit te vind wie volgende by die teater te siene sal wees. Jy kan hom ook by 069 525 5809 kontak vir meer inligting.





