Die NG Kerk Witpoortjie Basaar is terug
'Die fondsinsameling is 'n bysaak – dit gaan vir ons daaroor om mense weer bymekaar te bring.'
Die NG Kerk Witpoortjie sien daarna uit om na ongeveer drie jaar weer basaar te hou.
Dié jolige basaar sal op Vrydag, 30 September en Saterdag, 1 Oktober by die kerk op die hoek van Michael Brinkstraat en Corlettlaan gehou word.
Volgens organiseerder Jan Coetzee sal die geleentheid op ‘n hoë noot afskop met ‘n heerlike wegneemete- en fliekaand. Besoekers kan dus uitsien na smullekker hamburgers, boereworsrolle, yankees, Chipstix, springmielies, spookasem, slushies, koffie, tee en koeldrank. Daarna sal ‘n gratis fliek vertoon word.
Die Saterdag begin met die ideale geleentheid om die litte weer los te kry – ‘n pretloop. Daarna sal die hekke oopgemaak word sodat besoekers die groot verskeidenheid stalletjies, heerlike kos en opwindende vermaak kan geniet.
Die basaar is ook elke jaar die gemeente se grootste fondsinsamelingsprojek. Dié fondse sal gebruik word vir die gemeente se onderskeie projekte.
“Ons wil graag weer ‘n kultuur van samesyn in die gemeenskap skep. Die fondsinsameling is ‘n bysaak – dit gaan vir ons daaroor om mense weer bymekaar te bring. Ons is verskriklik opgewonde om die gemeenskap te vermaak met ‘n optrede deur gaskunstenaar Tanya V, ‘n hondevertoning en selfs ‘n pretpark vir die kinders,” het dominee Rudolph Botha vertel.
So lyk die program:
Vrydag, 30 September
• 18:00 – Wegneemetes
• 19:00 – Fliek begin
Saterdag, 1 Oktober
• 07:00 – Pretloopinskrywings
• 07:30 – Pretloop begin
• 08:00 – Hekke maak oop
• 08:15 – Dag word amptelik geopen
• 08:30 – Verkope begin
• 09:00 – Eerste vertoning begin
Die toegangsgeld:
• R20 per volwassene
• R10 vir kinders tussen 12 en 18
• Gratis vir kinders onder 12
“Daar sal werklik iets vir almal wees – kosstalletjies, ‘n pretpark waar pryse gewen kan word, springkastele, boeke, ‘n witolifanttafel, kwekery, slaghuis, koffiehuis en vele meer. Daar sal ook veilige parkering en kaartfasiliteite beskikbaar wees. Ons sien uit om saam met die gemeenskap te kuier,” het Rudolph ten slotte vertel.
Vir enige verdere ingligting of navrae, skakel gerus vir Jan by 082 720 4384.



