News

Kersfees + skoonfamilie = wysheid, nie woede

Kersfees bring nie net vreugde nie, maar soms ook spanning – veral met skoonfamilie. ’n Kliniese sielkundige verduidelik waarom konflik ontstaan en gee raad oor hoe om die vrede te bewaar.

Dis geen wonder dat daar soveel skoonma-grappies is nie – skoonfamilie is in baie gesinne ’n sensitiewe onderwerp, veral gedurende die Kersseisoen.

Die Krugersdorp News het met Minette Janse van Rensburg, ’n kliniese sielkundige, gesels om te ontleed waarom sommige mense met hul skoonfamilie sukkel en hoe dié verhoudings verbeter kan word.

“Daar is talle redes waarom volwasse kinders nie met hul skoonouers oor die weg kom nie, en elke familie verskil,” het sy gesê.

Volgens haar draai hierdie redes hoofsaaklik om die volgende:

• Dinge word in elke huis anders gedoen – wat vir ouers, volwasse kinders, skoonkinders én hul huweliksmaats geld
• Konflik ontstaan dikwels weens verskillende waardes. Voorbeelde sluit in respek, liefde, vertroue, eerlikheid, kommunikasie, verantwoordelikheid, deursettingsvermoë, empatie, lojaliteit, geloof, dankbaarheid en familietyd
• Gedurende Kersfees is daar dikwels hoë verwagtinge van goeie tye. Wanneer dit nie realiseer nie, voel mense gou teleurgesteld. Hartseer en angs lei dikwels tot irritasie en woede – die ideale resep vir misverstande en rusies
• Die misbruik van alkohol verhoog spanning en word maklik ’n broeiplek vir drama en konflik
• Ander faktore wat spanning tussen skoonfamilie veroorsaak, sluit in onopgeloste konflikte, kritiek sonder respek, kompetisie vir aandag, en die gedagte dat “my kind se huweliksmaat nie goed genoeg is nie”
• Groot spanning ontstaan dikwels wanneer kleinkinders hul opwagting maak. Ouerskapstyle verskil tussen ouers en grootouers, en dan “kook ’n nuwe pot oor”. Oor die algemeen, sê sy, moet grootouers terugstaan en hul volwasse kinders toelaat om hul eie kinders groot te maak

Janse van Rensburg voeg by dat verskille en geskille met geduld en wysheid opgelos – of ten minste draaglik gemaak – kan word as die volgende in gedagte gehou word:

• Onthou: konneksie is belangriker as perfeksie
• Verwag weerstand en hanteer dit met begrip en empatie
• Bespreek realistiese, duidelike verwagtinge wanneer almal kalm en in ’n goeie bui is. Die doel moet wees om die ander party te verstaan – nie om hom of haar van jou siening te oortuig nie
• Kommunikeer duidelik en verseker dat daar geen misverstande is nie
• Stel sagte, maar ferm grense oor byvoorbeeld kuiertyd, privaatheid en ander bronne van irritasie
• Gee aandag aan jou eie selfversorging: genoeg rus, slaap en tyd saam met jou maat
• Onthou dat verhoudings gebou word deur tyd saam te spandeer. Hoe meer tyd julle saam deurbring, hoe beter leer julle mekaar ken – en hoe makliker is dit om mekaar se sensitiwiteite te verstaan

“Ek wil beklemtoon dat ons almal nie noodwendig van mekaar hoef te hou nie, maar as almal mekaar met respek behandel, kan Kersfees inderdaad ’n geseënde familietyd wees,” het sy afgesluit.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button