Municipal

Stukkende drein maak die lewe moeilik vir Southweg-inwoner

Volgens Hendrik du Preez wat al vir die afgelope 48 jaar in die huis woon, word die gebreekte drein gereeld met vullis verstop.

Plaaslike inwoner Hendrik du Preez, 77, het onlangs sy kommer uitgespreek oor die haglike toestand van die sementblaaie op sy sypaadjie in Southweg.

Dié blaaie is veronderstel om die stormwaterdrein te bedek wat water weswaarts in Southweg afvoer. Maar, omdat die blaaie gebreek is, gooi verbygangers hul vullis in die drein.

Volgens Du Preez wat die afgelope 48 jaar in die huis woon, word die drein gereeld deur die vullis verstop. Elke keer as daar water deur die drein vloei, spoel die gemors by sy oprit in.

“Wanneer die drein oop is, vloei die water in die straat af. Maar wanneer daar allerhande gemors in is, beland dit in my oprit. Dit stink verskriklik en ek moet elke keer dié spulletjie skoonmaak. Ek het selfs al dooie diere in die drein gevind,” het hy vertel.

“Dis ook ‘n veiligheidsrisiko vir Lantern Skool se leerders. Hul busstop is reg langs die drein, en soos kinders maar doen, speel hul op dié stukkende blaaie. Hulle kan baie maklik sleg seerkry.”

Du Preez het die probleem al verskeie kere by die betrokke amptenare aangemeld.

Kelebogile Mafa, die mediabeampte van die Johannesburg Road Agency het voertuigbestuurders se swak gedrag die skuld vir die beskadigde dreininlate gegee.

“Die instandhouding van dreine is eintlik deel van roetine-instandhouding. Daar moet egter kennis geneem word dat verskeie streke verskillende dreinbedekkings het. Dit beteken dat die verskaffers nie noodwendig die voorraad vir elke streek het nie. Die verkrygingstyd kan dus vertraag word,” het sy vertel.

Inwoners word aangemoedig om paddefekte by die City of Johannesburg-inbelsentrum aan te meld by 0860 562 874 of 011 375 5555. Daar is ook inligting op JRA se sosiale media-platforms: Twitter (@MyJra) en Facebook (Johannesburg Roads Agency).

Sodra ‘n oproep aangeteken is, sal die inwoner ‘n verwysingsnommer ontvang wat gebruik kan word om die status van die navraag dop te hou. Eskalerings van aangetekende oproepe/ navrae kan na die JRA se blitslyn gestuur word by hotline@jra.org.za.

Hendrik du Preez is ontsteld oor die toestand van die sementblaaie oor die dreininlaat. Foto: Alanicka Lotriet.
Hendrik du Preez is ontsteld oor die toestand van die sementblaaie oor die dreininlaat. Foto: Alanicka Lotriet.
Hendrik du Preez is ontsteld oor die toestand van die sementblaaie oor die dreininlaat. Foto: Alanicka Lotriet.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Roodepoort Record in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button