Kruiners verwelkom die nuwe seisoen
Kruiners was opgewonde om die aankoms van die nuwe seisoen te vier. Vir die leerder simboliseer die dag nuwe hoop, groei en uitdagings.
Met hare, sokkies, hoede, kostuums en bybehore wat enige iemand twee keer sal laat kyk en ‘n gees wat skrik vir niks – so het Laerskool Helderkruin die nuwe seisoen verwelkom.

Op Vrydag, 2 September was pret en jolligheid aan die orde van die dag toe Kruiners kon aantrek volgens die tema ‘Lag-‘n-slag’. Skoolbemarker Jessica Courtney het vertel dat leerders die dag op ‘n hoë noot afgeskop het toe hulle die sportveld met hul uitrustings ingekleur het.
“Van die leerders was uiters kreatief en oorspronklik, en hulle het hulself gate uit geniet. Dit was duidelik dat die Kruiner-familie gereed is vir die lente en al die uitdagings wat die nuwe seisoen vir hulle inhou.”
Op die veld het die leerders gelag, gekuier en gesokkie op die maat van die agtergrondmusiek ter viering van die nuwe seisoen. Courtney het dié lentedag as een so uit die boek beskryf en glo dat die dag nie beter kon verloop het nie.








