Kolwyntjies vir kinderkanker
Cupcakes of Hope help tans bykans 264 kinders wat met kanker gediagnoseer is, tussen die ouderdomme van 'n paar maande en 18 jaar.
Cupcakes of Hope het op Saterdag, 1 Oktober hul laaste groot fondsinsamelingsprojek – Cupcakes 4 Kids with Cancer – vir die jaar gehou.
Dié jaarlikse veldtog word gewoonlik by winkelsentrums regoor die land aangebied. Vanjaar was geen uitsondering nie toe ‘n totaal van 60 sentrums die projek ondersteun het.
Verbruikers was op die dag verras met ‘n wye verskeidenheid kolwyntjies om van te kies ten bate van kinderkanker. Vrywilligers, beter bekend as Cupcake Angels, kon soos gewoonlik aan hul pienk voorskote en vriendelike glimlagte uitgeken word.
Volgens Philip Smith, organiseerder van die soete projek by Cradlestone Mall was dit Cupcakes of Hope se 10de bestaansjaar en het vrywilligers oor die land dit met groot opgewondenheid gevier.
“Ons het meer as 2 000 kolwyntjies gehad om te verkoop. Dié was verpak in enkelles, pakke van ses en pakke van 12. Meeste van die kolwyntjies is deur vrywilligers (Cupcake Angels) gebak en versier,” het hy vertel.
“Ons kon ook Pick n Pay se oonde gebruik om in te bak en Food Lovers Market se bakkery het kolwyntjies geskenk om te verkoop. Idaho Spur en Bru Coffee Roasters het koopbewyse geskenk.”
Een van hul spesiale gaste op die dag was die jong Chezan Lindes wat einde Mei met Aggressiewe Groot B-sel Nie-Hodgkin Lymphomie kanker gediagnoseer is. Dié brawe vegter het onlangs haar sesde chemo behandeling ontvang.
“Baie ondersteuners was dalk gediagnoseer met kanker, ken iemand met kanker of het selfs kinders of familielede afgestaan aan die siekte. Een van ons hoofverkopers op die dag is self ‘n ouer wat haar dogtertjie van ses jaar oud, drie jaar gelede aan kanker afgestaan het,” het Philip gesê.
Volgens Philip help hul tans bykans 264 kinders wat met kanker gediagnoseer is, tussen die ouderdomme van ‘n paar maande en 18 jaar. Hy wil daarom al die Cupcake Angels en kopers bedank vir hul harde werk en ondersteuning want sonder hulle sou die projek nie moontlik gewees het nie. Hy wil ook dankie sê aan die Cradlestone Mall bestuur vir hul ondersteuning.
Indien jy betrokke wil raak, of meer wil weer oor Cupcakes of Hope en hul projekte, besoek gerus hul webwerf www.cupcakesofhope.org of volg hul op sosiale media by @cupcakesofhope.






