KidsLocal newsPrimary SchoolSchools

Plaaslike onnies word ingelig oor kindertrauma

Aangesien kinders meeste van hul dag by die skool deurbring en vertroueverhoudings met hul onderwysers bou, is die kanse groot dat hul insidente van mishandeling met die onderwyser sal deel.

Solidariteit Helpende Hand se Ons Sentrum het op Saterdag, 29 Oktober besoek afgelê by Laerskool Dr Havinga as deel van hul bewusmakingveldtog rondom kindertrauma.

Ons Sentrum in Pretoria se hooffokus is om met kinders te werk wat enige vorm van trauma ervaar. Die trauma kan die resultaat van verskeie faktore wees, naamlik die verlies van ‘n geliefde, ‘n egskeiding of selfs ‘n vorm van mishandeling, hetsy emosioneel, fisies, seksueel of selfs verwaarlosing.

Volgens sentrumbestuurder, Yolandi Singleton was die doel van Saterdag se besoek om onderwysers toe te rus met die kennis van hoe om met moontlike gevalle van verskillende tipes kinderminshandeling te werk te gaan. Op die dag was daar nie net Havie onnies teenwoordig nie, maar ook onderwysers van aanliggende kleuterskole en laerskole.

Elri van Schoor luister aandagtig. Foto: Alanicka Lotriet.
Trudie Coetzee en Marina Ruthven van Raddai Care Centre in Krugersdorp-Wes. Foto: Alanicka Lotriet.

“Dis baie belangrik vir onderwysers om te weet wat die wet van hulle verwag as hulle vermoed dat ‘n kind dalk ‘n vorm van mishandeling ervaar. Hulle moet weet hoe die proses lyk en hoe om dit te rapporteer,” het Yolandi vertel.

“Hoe ‘n onderwyser reageer wanneer ‘n kind sulke inligting onthul is baie belangrik. Ons bespreek ook met die onderwysers hoe hulle ‘n saak moet hanteer as die ouer self betrokke is.”

Aangesien kinders meeste van hul dag by die skool deurbring en vertroueverhoudings met hul onderwysers bou, is die kanse groot dat hul insidente van mishandeling met die onderwyser sal deel. Daarom is dit belangrik vir onderwysers om te weet presies hoe om so ‘n geval te hanteer en om sodoende nie die saak moontlik te belemmer nie.

Volgens Singleton moet onderwysers weet watter vrae om te vra en ook hoe om dit te vra sodat die proses nie onnodig vertraag word nie.

Marilise Francklin en Mariska Braune woon die geleentheid by. Foto: Alanicka Lotriet.
Marilise Francklin maak notas. Foto: Alanicka Lotriet.

“Onderwysers moet weet hoe hulle die kind kan ondersteun – die uitkoms van sulke gevalle is baie keer in hulle hande. Onthullings wat by die skool gemaak word moet van die staanspoor af reg hanteer word,” het Singleton vertel.

“As onderwysers nie weet hoe om dit te hanteer nie, kan sleutelinligting deur die krake val. Dis altyd hartseer as ‘n kind met trauma gekonfronteer word. Hulle weet nie altyd hoe om dit te hanteer nie, veral as hulle nie ondersteuning en leiding kry nie, en dis waar die onderwyser ‘n belangrike rol speel.”

Sy meen die geleentheid was goed ontvang deur die teenwoordige onderwysers en het hul ‘n baie goeie reaksie getoon. Alhoewel die opleidingsgeleentheid nog net in Pretoria en by Dr Havinga aangebied is, hoop Singleton en haar span om die geleentheid in toekoms in ander streke ook aan te bied.

Volgens Singleton sukkel kinders wat regtig sukkel om hulle trauma te verwerk dikwels met skoolwerk, hulle portuurgroep en selfbeeld. Hulle is ook soms kwesbaar om afgeknou te word of self ook af te knou aangesien hulle dalk mag sukkel om hulself emosioneel te reguleer.

“Sommige kinders se geaardheid verander ook en baie mense sal die gedrag misverstaan en aanneem dat ‘n kind moedswillig is,” het Singleton gesê.

“Kinders benodig dus stabiliteit, voorspelbaarheid en konstante emosionele ondersteuning. Hulle benodig dat hulle ouers sensitief teenoor hulle sal wees, maar nie hulle roetines en dissipline moet stopsit nie aangesien die kind steeds voorspelbaarheid benodig.”

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Roodepoort Record in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button