Meer as 70 000 gehekelde blokkies vir liefdadigheid!
Daar het 'n getal van 1 500 hekelaars by 104 lokale landswyd aan die maraton deelgeneem.
Monique Brink en haar spanlede by ATKV se Arendsnes in Constantia Kloof het die naweek ‘n rekordbrekend getal van 70 805 gehekelde blokkies ingesamel. Die inisiatief het begin toe dié span ‘n dinkskrum gehou het om te besluit wat hulle groot liefdadigheidsprojek vir die jaar gaan wees.
Hulle het toe die idee van ‘n hekel maraton rondgegooi en uiteindelik besluit dat dit hulle groot projek vir die jaar gaan wees.
@moniquebrinkvanwy
Die hekel maraton word toe ‘n 30-uur Safari Hekel Maraton waar al die deelnemers blokkies hekel en dan word die blokkies saam gevoeg om ‘n kombers te maak. Die maraton het Vrydag, 26 Mei om 12:00 afgeskop en Saterdag, 27 Mei om 18:00 geëindig.

“Ek het eers gewonder of dit so goeie idee sal wees want wie hekel nog? Sal daar genoeg mense betrokke wees of gaan ons net ‘n paar blokkies insamel vir die komberse?” het Monique gevra.
“My foon het toe begin lui en ons Arendsnes-takke regoor die land bel in om deel te word van ons projek! Ek was verstom – ons het oor die 100 verskillende plekke wat saam ons die 30 ure gehekel het vir liefdadigheid!”
Sy vertel verder hoe die ander takke reeds begin hekel het om die maraton met 1 000 blokkies te begin.
“Ons het selfs oproepe uit die VSA ontvang van Suid-Afrikaners wat hulle blokkies aan ons wil skenk vir die projek!” vertel sy.

Die idee met die projek was om ‘n verskeidenheid verskillende grootte komberse te kan maak sodat dit vir mense met babas, of in rolstoele of selfs kinders geskenk kan word.
Plaaslike besighede het van die projek gehoor en ‘n verfwinkel het 700 blokkies geskenk. “Hulle het gehoor ons versamel die blokkies en het toe vir al hulle werkers gevra om ‘n blokkie te hekel as hulle ‘n blaaskans wil vat van die werk,” vertel sy.

Mans en vrouens het aan die projek deelgeneem, selfs diegene wat nog nooit ‘n hekelnaald opgetel het nie het ingekom en geleer hoe om ‘n blokkie of twee te hekel. Die kamer waarin almal gesit en hekel het by NG Constantiakruin was vol verskillende kleure bolle wol, ‘n verskeidenheid blokkie patrone en warm vrolike geselsies wat almal aangeknoop het. Daar het ‘n getal van 1 500 hekelaars by 104 lokale landswyd deelgeneem aan die maraton.
“Ek het besef ons moet dalk vir die vrywilligers ‘n opwarmingsroetine gee vir hulle hande sodat hulle nie in ‘n spasma in gaan nie. Gelukkig het ‘n gawe fisioterapeut ‘n video vir ons geskiet waar sy verskillende handoefening demonstreer.”
@moniquebrinkvanwy Dankie Maretha Du Toit – Northmed Medical Centre Bloemfontein. #crochet #safarimarathon #hekelmarathon #atkv #hekeljouhartuit #arendsnes #crochetmarathon
Die projek het definitief op ‘n suksesvolle noot geëindig en het vir talle Suid-Afrikaners bymekaar gebring as gevolg van hulle liefde vir hekel en liefdadigheid.
Sy vertel dat daar egter nogsteeds blokkies instroom en dat die tak besluit het om Woensdag, 31 Mei die afsluitingsdatum te maak vir die blokkies, dan sal hulle alles bymekaar tel en ‘n finale getal bevestig.



