Kuns is Charles se toevlug
Charles het onlangs sy kuns by die Craft Market by West Rand Sewing vertoon.
Charles Brown het sy eerste skildery 29 jaar gelede geskilder, terwyl hy klas geloop het by Schalk Breeschoten.
Charles het onlangs by ‘n kuns- en handewerkmark sy kunswerke uitgestal vir die gemeenskap. Hy gebruik graag olieverf en verduidelik dat hy van dié verfmedium hou omdat dit so lank vat om droog te word.
“Ek is ietwat ongeduldig en het gevoel dat olieverf my meer geduld en deursettingsvermoë sal leer,” las hy by.
Verder vertel hy word geïnspireer sodra hy na die leë doek voor hom kyk.
• Lees ook: Winter market day at local nursery
“Sodra ek begin verf kom daar ‘n kalmte oor my en die wêreld gaan om my verby,” vertel Charles, “As ek rondry as deel van my werk dan sal ek soms ‘n boom langs die pad sien uitstaan en dan weet ek dit is iets wat ek wil skilder.”
Hy verduidelik dat hy die boom dan sal verf, alhoewel dit by ‘n heeltemal verskillende landskap of agtergrond sal vertoon.
“Al my skilderye van landskappe is ‘n verbeeldingsvlug,” vertel Charles, en noem dat skilder sy toevlug is.
Charles woon vir die laaste 35 jaar saam met sy vrou en drie kinders in die Roodekrans. Hy het twee seuns en ‘n dogter.
“Almal is al gelukkig getroud en ek spog ook met vier kleinkinders.”
As hy nie agter sy esel sit nie, is Charles in die eiendomsbedryf.



