NG Kerk Roodekrans se seniors het nostalgiese terugblik by monument
35 seniors van die NG Kerk Roodekrans het die plesier gehad om een van SA se pragtigste erfenisterreine te besoek.
Seniors van die NG Kerk in Roodekrans het op 11 Augustus na Pretoria vertrek om die Voortrekker Monument te verken.
Vyf-en-dertig seniors van 60 jaar en ouer het die kulturele erfenisterrein in Pretoria besoek as deel van hul kwartaalikse aktiwiteitsbeplanning en spanbou.

“Elke kwartaal word daar iets vir die seniors beplan en Dorothy, ons koster, het gedink dit kan lekker wees, en glo my dit was vet pret!” het Belinda Smal, wat een van die kerklede is, gesê.
Van die aktiwiteite wat volgens Smal plaasgevind het, was dat die seniors die geleentheid gehad het om te leer hoe om koffie op ‘n vuur te maak en het die drankie uit die blikbekers baie geniet. Hulle was ook bederf met tradisionele melktert en het daarna op ‘n geskiedkundige toer gegaan. Hulle het kort daarna na ‘n restaurant gegaan vir middagete voordat hulle teruggekeer het huis toe.

“Binne in die monument is kliptonele en sy [die toergits] het elkeen se geskiedenis vir ons uit gelê,” het Smal gesê.

Die monument in Pretoria beeld die geskiedenis van die Afrikanervolk en hul kultuur. Dit bied besoekers ‘n kykie in die geskiedenis van die Groot Trek en die Anglo-Boereoorlog. Die monument dien ook as die ideale plek om eet- en drinkgoedjies van die Afrikaanse kultuur te geniet.




