Plaaslike inwoner vier sy 90ste verjaarsdag
Op 90-jarige ouderdom is daar baie waaroor mens trots kan wees. Jan van Niekerk is trots op sy groot familie en vele talente.
Jan van Niekerk vier op 12 November sy 90ste verjaarsdag. Jan en sy vrou Cathy, het onlangs na Roodepoort verhuis nadat hulle die laaste 31 jaar in Bethlehem gewoon het.
Hy is in 1933 gebore in Dealesville en was die agtste kind van Jan en Nela van Niekerk. Na Jan is nog ‘n boetie gebore (Peet), net die twee van hulle leef nog. Hy het in Dealesville skoolgegaan, en het na skool by die staatsdiens begin werk. Hy het in 1993 in Bethlehem afgetree. Die egpaar het in verskeie dorpe in die Vrystaat gebly as gevolg van sy werk en bevorderings.
Jan is op sy gelukkigste as hy kan visvang of braai. Hy is voorwaar gelukkig as dit kom by visvang, hy vang altyd of die eerste, of die grootste, of die meeste vis vir die dag. Hy mag maar braai, en maak seker dat jou vleis en braaibroodjies op ‘n Saterdagaand perfek gebraai is. Hy geniet die Huisgenoot Woordsoek speletjies ongelooflik baie. Sy hande staan ook vir niks verkeerd nie; hy kan enigiets wat stukkend is weer regmaak vir gebruik.
Jan en Cathy is in 1955 getroud en het onlangs hulle 68ste huweliksherdenking gevier. Die egpaar het vyf kinders, twee aangetroude dogters en een aangetroude seun. Hulle het agt kleinkinders, waarvan ses getroud is, en in totaal dus 14 kleinkinders en nege agterkleinkinders.
Jan vier die spesiale geleentheid in Kroonstad saam sy jonger broer Peet, sy vrou Cathy, hulle kinders, kleinkinders en agterkleinkinders.



