Local news

Afrikaanse film ‘n huldeblyk aan beste vriend

Frankie & Felipé is 'n film met 'n kragtige boodskap vir elkeen wat dit kyk.

Frankie & Felipé het op 23 Februarie by filmteaters begin draai en die Roodepoort Record het met een van die skrywers en vervaardigers van die film, Solomon Cupido, gesels.

Solomon het vertel dat die film sy en Bradley Olivier se eerste vollengte film is, “Ons het die film saam geskryf en vervaardig. Dit is ‘n storie wat ons nog altyd wou vertel; ‘n liefdesverhaal, ‘n romcom en ‘n buddy film. Dit is ‘n film vir die hele familie.”

Solomon het bygevoeg dat die film oor twee stiefbroers handel wat mekaar weer vir die eerste keer in 15 jaar sien, maar in twee uiterste gevalle. Vir die een broer is dit ‘n week voor sy troue, en vir die ander een ‘n week voordat hy sy skuld by ‘n geldskieter moet betaal.

“Die vraag is dus, gaan dit ‘n begrafnis of ‘n troue wees?” het Solomon met ‘n glimlag gevra.

Hy het bygevoeg dat hulle besluit het om ‘n Afrikaanse film aan te pak, want hulle altwee se moedertaal is Afrikaans en ‘omdat hierdie ons eerste probeerslag was, wou ons veilig speel en dit in ‘n taal doen wat ons ken’.

Alhoewel dit ‘n vreugdevollge dag vir Solomon is, is daar tog ook so bietjie hartseer, want Bradley is in Julie verlede jaar in die Life Flora Hospitaal oorlede.

“Die film is ‘n huldeblyk aan Bradley. Ons het so hard aan hierdie projek gewerk en nou is hy nie hier om al die komplimente en lof van almal oor die film te hoor nie. Hy het wel die film gesien voor sy dood, en hy was baie gelukkig en opgewonde vir die land om dit te sien. Dit gee my vrede,” het Solomon vertel.

Op die vraag oor hoekom mense die film moet gaan kyk, het Solomon gesê, “Hierdie is ‘n plaaslike film wat deur plaaslike inwoners vervaardig is. Dit is ‘n pragtige voelgoed film. Ek dink dat ons, as ‘n land, die laaste paar jaar deur soveel gegaan het, en met soveel ernstige goed op ons televisie- en filmskerms is hierdie film iets wat jou sal help om vir ‘n uur en ‘n half net van alles te vergeet en heerlik te skaterlag.”

Hy het afgesluit deur te sê dat die film sewe nominasies by die Silwerskermfees ontvang het.

“Twee van hierdie nominasies was vir die beste film en die beste vervaardiger. Die terugvoer wat ons ontvang het van die kykers het ons verstom gelaat. Ek sal elkeen aanraai om die film te gaan kyk, dit is regtig goed.”

Related Articles

 
Back to top button