Local news

Kleuterskool-onnie het jou hulp nodig

Octavia was in 'n fratsongeluk betrokke wat haar hele lewe in 'n oogwink verander het.

Donderdag, 7 Maart was vir die 40-jarige Octavia Ndlovu ‘n gewone dag maar op pad werk toe het haar lewe in ‘n oogwink verander.

Octavia is ‘n assistent-onderwyser by Carpe Diem kleuterskool waar sy vir die afgelope twee jaar werksaam is.

Volgens Annelize Floor, die kleuterskoolhoof, gee Octavia klas vir drie- en vierjariges in die oggende en in die middae help sy by die een- en tweejariges.

Annelize vertel dat Octavia die oggend op die sypaadjie in Moutonweg gestap het. Terwyl sy vir ‘n taxi gewag het, het die onmoontlike gebeur.

“Twee voertuie het in die kruising by Kingfisher Straat ‘n botsing gehad en daardie impak het die voertuie oor die sypaadjie gestoot en veroorsaak dat die bestuurders beheer oor die voertuie verloor het. Octavia is van voor af getref en het onder een van die voertuie beland.”

Annelize het bygevoeg dat die gemeenskap onmiddelik opgetree het en die Horison buurtwag (wat eerste op die toneel was) het mediese hulp ontbied.

“Hulle het die skool se naam op haar t-hemp gesien en my geskakel, wat my in staat gestel het om haar man in kennis te stel om ook na die toneel te gaan.”

Octavia is in die Charlotte Maxeke hospitaal se hoësorgeenheid, waar sy nogsteeds is, opgeneem vir trauma en sy het ook bloeding op die brein gehad.

Annelize het verduidelik, “Genadiglik is die bloeding van so aard dat dit nie brein se werking affekteer of chirurgiese ingrype nodig het nie. Die L1 rugwerwel het ‘n fraktuur, maar op die stadium lyk dit net soos beenskade en geen neurologiese skade daarmee saam nie. Haar regterheup was ernstig ontwrig, en word met traksie herstel. ‘n Moontlike operasie lê voor. Octavia het ook verskeie ander wonde opgedoen, wat twee maal per dag deur verpleegsters versorg word.

“Sy ervaar nog geweldige pyn en ongemak en wag nog vir ‘n spesiale rugstut en fisioterapie wat dan sal begin.
‘‘Op hierdie stadium lyk dit wel of daar nog maande se rehabilitasie nodig gaan wees voordat sy weer redelik op die been kan wees en onafhanklik haar normale take sal kan verrig.”

Sy het bygevoeg dat Octavia altyd gewillig is om te help, altyd glimlag en almal met respek en bewondering hanteer. “In twee jaar het sy diep spore by Carpe Diem getrap en ‘n spesiale plek in almal se harte gekry. Ons almal by die skool mis haar baie.”

Annelize het ook ‘n beroep op die gemeenskap gedoen. “Ons wil graag vir Octavia help, en vra die gemeenskap se hulp; hetsy met geldelike donasies, kos of ander kruideniersware, ‘n werksgeleentheid vir haar man of selfs net gebed vir Octavia, haar gesin, die dokters en verpleegpersoneel.”

Sy het afgesluit, “Ek spreek graag my dank uit aan die Carpe Diem Kleuterskool ouers, hul familie, vriende en kollegas. Daar is soveel harte en hande alreeds oopgemaak met bydraes van verskillende aard, omgee, belangstelling en die belangrikste is hoe hierdie mense haar en haar familie, maar ook ons skool en personeel, in gebed deur hierdie tyd dra.”

Vir meer inligting, kontak Annelize op 082 568 4230 of stuur ‘n epos na Annelize.floor01@gmail.com.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Roodepoort Record in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button