Local news

Laurette se afsterwe laat groot leemte in Witpoortjie-gemeenskap

Die eienares van Koek 'n Loer tuisnywerheid se skielike afsterwe het die gemeenskap geskok en huldeblyke het op sosiale media ingestroom.

Die nuus van Laurette Hartmann (73) se skielike afsterwe op 23 April het skokgolwe deur die gemeenskap gestuur. Sy was die eienaar van die immergewilde Koek ‘n Loer tuisnywerheid wat al vir 30 jaar inwoners van die Wes-Rand van die heerlikste gebak voorsien het.

Eduan Deysel, Laurette se susterskind, het vertel dat die dokters wat haar behandel het, vermoed dat sy van nierversaking oorlede is.

Eduan het bygevoeg dat dit moeilik is om presies te sê hoe lank Laurette deel van die gemeenskap was, aangesien sy eers in Witpoortjie gewoon het en later na Roodekrans verhuis het.

Hy het gesê dat sy eers ‘n tuisnywerheid in Krugersdorp-Noord gehad het, “Hier het sy vriende met een van die baksters geraak, en te hore gekom van ‘n tuisnywerheid, Pik ‘n Wyntjie, in Witpoortjie wat te koop is. Tannie Laurette en die bakster het die plek gekoop en as vennote dit bedryf. Later het sy die ander bakster uitgekoop en so is Koek ‘n Loer gebore. Tannie Laurette en haar oorlede man, Oom Hennie, het die tuisnywerheid bestuur. Koek ‘n Loer sal in Mei alreeds 30 jaar bestaan.”

Laurette was nie net ‘n besigheidseienaar nie, maar sy het ook self baie van die koeke, terte en ander lekkernye gebak.

“Tannie Laurette het elke kliënt by naam geken en gegroet. Sy was baie vrygewig en altyd die gemeenskap gehelp waar sy kon,” het Eduan gesê.

Hy het bygevoeg dat sy mal daaroor was om te brei en het nie ‘n geleentheid om te gaan uiteet verby laat gaan nie.

“Ons gaan beslis haar goedhartigheid teenoor almal baie mis.”

Laurette was vir baie mense soos ‘n tweede ma, en vir Johannes en Heinrich, wie tans die tuisnywerheid bestuur, was dit ook nie anders nie.

“Ons was bekend as haar twee seuns, en ons was baie lief vir ons Tannie Koek. Ons gaan haar verskriklik baie mis!” het Johannes gesê.

Die vraag op almal se lippe is, wat gaan van Koek ‘n Loer word? Die antwoord is eenvoudig, die winkel is oop en sal aanhou om die gemeenskap te dien.

Laurette se begrafnis word op 30 April gehou.

Huldeblyke het op sosiale media ingestroom:

Natasha Olivier Calitz.

• Natasha Olivier Calitz: Tannie Laurette het vir baie jare groot donasies van koek en lekkernye gegee vir Floroma Ouetehuis se basaars elke Mei en November. Sy het ‘n groot aandeel gehad in die sukses van die koektafel. Sy sou weer aan ons koek geborg het vir ons markdag by Floroma op 11 Mei. Ons het ook ‘n paar inwoners, en hulle kinders wat, wanneer die inwoners verjaar, bel hulle net Tannie Laurette en sy reël dan vir ons om te tel. Sy gaan inderdaad so gemis word vir haar groot hart en vriendelike mens wat sy was.

Caren Roberts.

• Caren Roberts: Liefste Tannie Laurette. Hiermee my innige simpatie, my hart is stukkend. Ek ondersteun Koek ‘n Loer tuisnywerheid seker maklik al die afgelope 30 jaar. My seuns word 23 en 24 en ons het altyd hul verjaardagkoeke by Tannie Laurette bestel en dan gaan lewer sy dit by die kleuterskool af. Sy het haar kliënte so goed geken. Sy was een van die mense met die mooiste hart; altyd vriendelik en het omgegee vir ander. As jy in die winkel stap kon jy haar parfuum ruik en jy kon haar altyd deur ‘n ring trek. Ons het altyd lekker gesels en dan het sy my vertel van die blokkies wat sy brei vir die kerk. Ook altyd gesels hoe sy haar oorlede man en seun mis en hoe sy nou op haar eie woon. My pa is nou amper twee jaar terug oorlede en sy was nogal geskok toe ek haar dit vertel want hy het haar winkel ook vir jare ondersteun. Ek het gereeld by haar gaan inloer en sy was altyd vriendelik en ‘n regte omgeemens. Rus in vrede mooiste mens, jou plekkie gaan virseker baie leeg wees in ons gemeenskap.

Annalene du Plooy.

• Annalene du Plooy: Dis met groot hartseer dat ek gelees het van Tannie Laurette Hartman van Koek ‘n Loer se afsterwe! Eerstens wil ek graag my innige meegevoel en simpatie aan haar kinders, familie, vriende en elke persoon wat haar geken het, meedeel. Bid vir elkeen in hierdie hartseer en donker tyd. Sjoe, hierdie tannie se heengaan sal ‘n groot leemte los in soveel mense se lewens wat haar geken het! Ek het haar ontmoet in 2010 toe ek deur ‘n moeilike finansiële tydvlak gegaan het, en sy my ‘n geleentheid gegee het om geskenkies in die tuisnywerheid te verkoop! Ek is vandag so dankbaar dat ons paaie gekruis het! En sal haar ewig dankbaar wees vir haar goedheid en pragtige hart en menswees. Ek sal haar altyd onthou met haar pragtige, gekleurde hare, mooi gegrimeer en pragtig versorgde hande en naels. Sy was die absolute beeld van ‘n dame. En dan haar pragtige geaardheid. Altyd vriendelik met ‘n glimlag op haar gesig en reg vir ‘n geselsie wanneer jy die winkel binne stap! Die koop het dan sommer ‘n heerlike kuier geword. Tannie Laurette, ek gaan jou vreeslik mis. Maar gun jou die rus saam jou dierbare man wat jou voorgeloop het. Tot ons mekaar eendag weer sien … RIV.

Rika Mostert.

• Rika Mostert: My Tannie, woorde het ek nie. My hart het gebreek toe ek die tyding ontvang. Vir 16 jaar het Tannie my voorsien van koeke en alle lekkernye uit die boonste rakke. Baie dankie vir al die boodskappe en liefde wat ek altyd by Tannie ontvang het, net so jammer dat ek ‘n week voor die tyd nie geweet het dat dit die laaste soentjie en drukkie sou wees nie. Rus sag by Jesus se voete my Tannie.

Christo Pretorius.

• Christo Pretorius: Dit is baie hartseer om die minste te sê. Liewe Laurette, rus sag en dankie vir jou onbaatsugtige diens en die beste peuselhappies en koeke in die Wes-Rand. Innige simpatie en medelye aan vriende en familie, Laurette laat ‘n groot leemte.

Marietjie Jansen van Vuuren.

• Marietjie Janse van Vuuren: Dit was ‘n voorreg om Tannie Koek ‘n Loer, soos ons na haar verwys het, te kon ken. Ons gun haar om huis toe te gaan. Witpoortjie sal nie meer dieselfde wees sonder Tannie Koek ‘n Loer nie.

Estie Zietsman.

• Estie Zietsman: Lollies jy was my mentor, vriendin en “maatjie” soos jy my altyd genoem het. Dankie dat ek altyd vir jou kon sê hoeveel jy vir my beteken. By jou was almal se geheime veilig. Lief vir jou, jou plek in my hart sal vir altyd warm wees. Rus in vrede.

Anita de Villiers Coetzee.

• Anita de Villiers Coetzee: My ant Koeks, ek het nie woorde nie. Dankie vir 30 jaar se vrienskap, vir raad, vir juicies uitruil, vir lag en huil. Weet net jy was baie geliefd en gaan gemis word. Jou legacy leef voort.

Marietta du Plessis.

• Marietta du Plessis: Laurette, my vriendin, ek is stom geslaan. Wat ‘n merkwaardige dame wat altyd daar was om almal te help. Sy het ook kos aan mense verskaf wat gesukkel het. Gaan jou baie mis, RIV.

Vir meer huldeblyke, kliek hier.

Related Articles

 
Back to top button