Local news

Florries: Drie mylpale in een

Laerskool Florida se skoolhoof, Rickus Swanepoel, vier die skool se 75ste bestaansjaar met sy 12de Comrades.

Na 18 jaar by Laerskool Florida – waarvan die afgelope vier as skoolhoof – is Rickus Swanepoel ’n ware Florrie in murg en been.

Wat min mense van hom weet, is dat hy in sy jonger dae ’n kranige atleet was en reeds 11 keer die Comrades-eindstreep oorgesteek het.

“Ek het oorspronklik onderwys gaan studeer oor my liefde vir sport en afrigting,” vertel hy. “Met die jare het onderwys self ’n ewe groot passie geword.”

Ná sy uittrede uit provinsiale rugby het Rickus hom op langafstand-hardloop toegespits en in 2008 sy 11de Comrades voltooi.

“Ek het altyd gedroom van daardie 12de een, maar die lewe gebeur mos,” sê hy. “My plan was om vanjaar die 100ste Comrades te hardloop en my dosyn te voltooi, maar die Covid-pandemie het alles vertraag. Die 100ste Comrades vind nou eers oor twee jaar plaas.”

Rickus het egter besluit om nie langer te wag nie. Omdat Laerskool Florida vanjaar hul 75ste bestaansjaar vier, het hy dié mylpaal as die perfekte geleentheid gesien om sy eie 12de Comrades aan te pak. Sy doel? Om ’n spesiale horlosie met al sy Comrades-medaljes te maak.

Sedert Januarie is hy hard aan die oefen. “Ek het altyd aan parkruns deelgeneem, maar vanaf begin 2025 het ek ernstig begin voorberei. Dis immers 17 jaar sedert ek laas die Comrades gehardloop het.”

Asof die skool se 75ste herdenking en sy eie 12de Comrades nie al motivering genoeg is nie, het Rickus ook besluit om die projek aan ’n goeie doel te verbind.

“Ons benodig dringend fondse om Laerskool Florida se netbalbane op te gradeer,” verduidelik hy. “Ek het besluit om borgskappe te werf – individue en besighede kan my per kilometer borg om geld in te samel.”

Sy teiken is om R200 000 vir die projek in te samel.

Rickus nooi graag die gemeenskap en plaaslike ondernemings uit om deel te neem aan die befondsingsinisiatief.

Belangstellendes kan Laerskool Florida se skakelbeampte, Melissa Kruger, kontak by 082 393 8886.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Roodepoort Record in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button