VLU bederf demensielyers
Die Vroue Landbou-unie sorg vir groot vermaak onder demensielyers met 'n reeks sensoriese produkte.
Die Roodepoort-tak van die Vroue Lanbou-unie se vroue is welbekend daarvoor dat hulle nie op hulle laat wag wanneer hulle te hore kom van ‘n kans om ‘n daadwerklike verskil in die gemeenskap te maak nie.
Dit was weereens die geval toe hulle ingelig is oor die lot van bejaarde inwoners van Roodepoort Sentrum vir Bejaardes se demensie-afdeling, wat bitter min het om hulle mee besig te hou gedurende lang dae by die sentrum.
Volgens Voorsitter Malinda Raats, het hulle dadelik besluit om werk te maak van die situasie.
“Mense met demensie benodig steeds stimulasie, en ons het koppe bymekaar gesit om met ‘n plan vorendag te kom om hulle te help,” sê sy.
Hulle het dadelik aan die werk gespring en vir die volgende paar weke is daar gehekel en gebrei vir ‘n vale.
“Ons het 13 serpe, 11 musse, 12 vingelose handskoene, en nege pare gebreide sokkies gemaak en afgelewer.
“Verder het ons 65 vroetellappies gemaak en oorhandig.
“Die vroetellappies help die bejaardes deur hul hande besig te hou.
“Die lappies is gemaak met verskillende materiale om verskillende teksture, growwe knope, ritsluiters, krale, klokkies, en leë dosies met knope te bevat.
“Die personeel was geweldig dankbaar vir ons bydrae en op ons beurt bewonder ons die geduld en empatie wat hulle teenoor die bejaardes wys.”



